Ons leer deur ons eie stories te vertel.

Blote kennis help nie regtig baie ver nie.  'n Mens moet saam met die kennis en in afhanklikheid (houding) van die Gees vaardighede aanleer, soos om te let op die mense wat oor jou pad kom.  Soos jy dit inoefen en dit 'n gewoonte raak, so begin jy leer hoe dit werk om oor grense te gaan.  En die wonder is dat só 'n gewoonte vir ander ook geleer kan word (oordraagbaar).

Dink eers alleen na oor jou kontak met mense vandag.

Lys almal wat jy kon groet, waar jy oor ‘n grens kon gaan, waar jy ingenooi is in hulle lewe of huise of kantore, en jy die geleentheid gehad het om aan ‘n dieper verhouding te bou.

o   Vanoggend

o   Vanmiddag

Sommige sal baie kontakte gehad het en ander minder.  En dit is heeltemal OK.  As jy niemand regtig kon groet nie, of daar nie grense oorgesteek is nie, dink dan oor mense wat jy graag môre sou wou groet.

Dit kan iemand wees wat vreemd was of jou uit jou gemaksone uitgeneem het.

Vertel vir mekaar die storie van jou ontmoeting met die persoon(e).

Konsentreer veral op hoe dié ontmoeting JOU geruk of getroos of geseën het.  Vertel dit asof hy/sy nou by julle is.  Onthou die Seisoen van Luister se waardes van leerbaarheid, vertroue, deernis en openheid.

Dink na hoe God jou voorberei het vir die ontmoeting met die persoon (oop/kwesbaar).

Gee tyd vir 3 persone om met ons te deel wat gebeur het - en wat julle geleer het om saam met Jesus te stap oor grense.