Vanaf die vroegste tyd is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste - die "feeste van die Here". Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle 'n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Op ander feeste is die groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op 'n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van heelhartige vreugde en genieting van God se goeie gawes, en terselfdertyd plegtige byeenkomste om sy vergewing en reiniging te vra. .

Die doel van die feeste was geestelik: 'n groot en heerlike ontmoeting tussen God en sy volk, en die profete het hulle skerp uitgespreek teen diegene wat die feeste tot blote formaliteit en leë ritueel verlaag het.

Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste (Rigt 21:21), maar al die mans moes die drie groot nasionale feesvierings bywoon:

  1. Paasfees en die fees van die ongesuurde brood (Eks 12:1-20; 23:15). Hierdie twee feeste is saam gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11-12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en 'n week geduur.
  2. Die fees van die weke (oesfees) (Num 28:26; Eks 23:16; Lev 23:15-21). Die fees - later' bekend as pinkster - is 50 dae na die begin van die paasfees gevier. Dit was in wese 'n landboufees waar die eerstelinge van die oes aan God gewy is.
  3. Die fees van die insameling (huttefees) (Eks 23:16; Lev 23:33-43). 'n Herfsfees aan die einde van die insameling van die vrugteoes. Die volk het sewe dae lank in hutte wat van takke gemaak is, gewoon - uit dank vir die oes, maar ook as 'n herinnering aan die dae toe hulle in die woestyn in tente gewoon het (Lev 23:43). Al hierdie feeste is beskou as "heilige" geleenthede waarop die gewone werk gestaak is. Daar was ook ander feesvierings.
PHILIP BUDD in Alexander, David, and Alexander, Pat: Handboek by Die Bybel. 
electronic edition. Kaapstad : Lux Verbi, 1998, c1986, S. 180