Verlange na Herlewing

Prof Attie Barnard skryf in "Eeufees van die Pinksterbidure 1861-1961" dat die herlewing in die VSA sy ontstaan gehad na jare van "diepe geestelike insinking en 'n geestelike doodsheid en agteruitgang op verskillende terreine van die godsdienstige lewe. Hierdie agteruitgang het saamgehang met 'n tydperk van groot finansiële teenspoed." Veral 'n ongekende finansiële ineenstorting aan die einde van die 1850's in die VSA het mense laat gryp "na dié God vir wie hulle in 'n tyd van voorspoed opsy geskuif het..."

Berigte wat oor die herlewing in kerklike tydskrife en die sekulêre pers in Suid-Afrika verskyn het, het ook hier in Suid Afrika 'n verlange laat ontstaan na herlewing. Dit in 'n tyd toe ons samelewing o.a. gekenmerk was deur 'n "dorheid en doodsheid op geestelike gebied."

Reeds sedert die 1830's is daar begin met die hou van bidure in Suid-Afrika waar mettertyd al meer vir herlewing gebid is. So berig die predikant van Caledon bv. op 'n ringsitting in 1838 m.b.t. bidure in sy gemeente: "Wij bidden dan dat de Heere mogt zijne Heilige Geest uitstorten..." Ook Dr. Andrew Murray se pa, Ds. Andrew Murray Sr. wat predikant op Graaff-Reinet was, het in 1838 op die ringsitting aldaar voorgestel dat die predikante en hulle gemeentelede ernstig moet bid "om de uitstorting des Heiligen Geestes ten einde er eene herlewing in den godsdiens onder ons moge plaats hebben."

In 1846 verwys Ds. G.W.A van der Lingen van die Paarl o.a. na die gereformeerde kerk in Suid-Afrika wat in 'n "jammerlyken toestand is, en tot de diepste ellende vervallen zal tenzy het Gode behagen zyn licht en zyne waarheid, zynen Geest te zenden, en haar op te wekken tot geestelyk leeven." En God het geantwoord. Hy het herlewing gestuur.

Konferensie in Worcester

In Februarie 1860 verskyn daar in die Kerkbode 'n uitnodiging, onderteken deur prof. J. Murray, prof. N.J. Hofmeyer en ds. J.H. Neethling aan alle belangstellendes om die konferensie wat op 18 April te Worcester sou vergader, by te woon. Die hoofsaak van die konferensie was die voorbereiding vir herlewing in Suid-Afrika, naas ander onderwerpe soos die onderwys en sendingwerk wat ook aandag gekry het. Ongeveer 300 lidmate van 20 gemeentes het die konferensie bygewoon.

Dit was werklik 'n aardigheid om Worcester op die 17de April 1860 te sien. 'n Blye skaar het van alle kante daarheen gestroom. Karre en waens het streep-streep langs die vernaamste paaie na Worcester gereis. Behalwe uit al die dorpe van die Boland, was daar ook afgevaardigdes van Beaufort, Graaff-Reinet, Fauresmith en Bloemfontein. Dit was 'n pragtige gesig.

Daar het 'n roepstem deur die land gegaan: "Broeders, laat ons saamkom om te raadpleeg oor die belange van die Godsryk," en dit was die resultaat. Ons het 374 vreemdes getel, leraars, ouderlinge, diakens, oud-kerkraadslede en gemeetelede. Die volgende dag, Woensdag, om nege-uur, het 'n talryke skaar die kerk gevul.

Ds. Shand word as voorsitter voorgestel en lees die treffende woord van God uit Jesaja 62, waarna hy 'n gebed doen. Die leraar van Swellendam (dr. Robertson) lees 'n verhandeling oor Die Herlewing. Onder herlewing verstaan ons die verwakkering van die vroomheid in die hart van die mens deur die uitstorting van die Heilige Gees. 'n Groot herlewing het in die afgelope tyd oor Amerika, Ierland, Skotland en Wallis verbrei. Dit vind nog plaas in ander dele van die wêreld. Dit is nie iets nuuts in die Christendom nie, soos die Pinkster, die Kerkhervorming of ander gedeeltes uit die Kerkgeskiedenis uit vroeër en latere tye ons leer. O, hoe nodig het ons dit nie! Soos reën op die dorre aarde, "soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion." Die verhandeling beskou die waarde van so 'n herlewing vir ons land in breë trekke, en raai ons aan om te begeer, ja om te bid daarvoor... Die algemene belangstelling in die onderwerp was so groot dat die hele oggend daardeur in beslag geneem was.

Herlewing 1860

In ongeveer Mei het die herlewing in Montagu begin. Daarna het dit versprei na Worcester, Wellington, Calvinia, Robertson en Ceres. Dit was opvallend dat die gemeentes wat die meeste verteenwoordigers by die  konferensie gehad het die diepste getref is deur die herlewing. In 1861 het dit ook na die Paarl versprei waar Ds G.W.A. van der Lingen die leiding geneem het. Die gebruik in die NG Kerk om jaarliks pinksterbidure te hou het sy ontstaan gehad sedert die verspreiding van die herlewing na die Paarl.

Die volgende aangrypende mededeling is gemaak deur Ds. J.C. de Vries oor 'n byeenkoms wat hy een Sondag in daardie tyd op Worcester gelei het:

"On a certain Sunday evening there were gathered in a little hall some sixty young people. I was leader of the meeting, which commenced with a hymn and a lesson from God's Word, after which I engaged in prayer. After three or four others had (as was customary) given out a verse of a hymn and offered prayer, a coloured girl of about fifteen years of age, in service with a farmer from Hex River, rose at the back of the hall, and asked if she too might propose a hymn. At first I hesitated, not knowing what the meeting would think, but better thoughts prevailed and I replied, Yes. She gave out her hymn-verse and prayed in moving tones. While she was praying we heard as it were a sound in the distance, which came nearer and nearer, until the hall seemed to be shaken, and with one or two exceptions, the whole meeting began to pray, the majority in audible voice, but some in whispers." Aangehaal uit J. du Plessis:The life of Andrew Murray of South Africa

Die uitwerking van die konferensie te Worcester het alle verwagtinge oortref. In sy verslag oor die herlewing(opwekking) van 1860, verklaar prof. Hofmeyer dat:

"die mededelinge omtrent die opwekking in Amerika en elders kragtig meegewerk het om die aandag by die onderwerp te bepaal, en 'n begeerte na daardie seëninge op te wek. Op die April-vergadering van die Christelike konferensie, wat op Worcester gehou is - een van die geseëndste byeenkomste wat ooit in Suid-Afrika gehou is - waar hierdie saak die vernaamste onderwerp van bespreking en gebed was, was dit op treffende wyse duidelik dat die Here Sy volk vir hierdie seëninge voorberei het. Die herlewing het onmiddellik na hierdie konferensie begin ... Die eerste gemeente wat 'n kragtige herlewing ondervind het, was Montagu. Nadat die leraar die gemeente... die berigte aangaande die opwekking in Amerika meegedeel het, het hulle die Here begin smeek om die uitstorting van Sy Heilige Gees oor ons land. Dit was reeds voor die konferensie.

Vanaf die konferensie het menigte onder diepe indruk en met 'n opgewekte hart teruggekeer. Daar was 'n groter lus tot gebed, 'n meer bepaalde belangstelling in die Woord van God. Die bidure is oorstroom, sodat die vertrekke al gou te klein geword het. Mans en vrouens moes afsonderlik byeenkom, en ook die kinders - seuns en dogters - is geskei. Daar was daelikse bidure, en soms meer as een per dag. Maar dit was nie die toestroming na die bidure en die prediking van die woord van God wat elkeen moes tref nie, maar die kragtige werking van die Gees van God in sovele harte. Menigeen het vir die eerste keer besef wat dit beteken om 'n sondaar te wees. Hulle was so diep oortuig van die verdorwenheid van hul harte, en van hul strafwaardigheid voor God, dat hulle hul in die stof verneder het, vervul met angs en kommer. Met grote erns het hulle gevra: "Wat moet ek doen om gered te word?' In hierdie toestand het baie tegelyk verkeer wat tot op hierdie stadium heeltemal onverskillig gewees het.

'n Sekere broeder van die gemeente, vertel dat hy, toe die opwekking sy hoogtepunt bereik het, vir dae byna geen rus gehad het nie vanweë die drukke besoek van mense by wie die Gees van God kragtige werke verrig het. Oud en jonk, blank en gekleurd is deur hierdie wonderbare opwekking aangeraak. Daar was bykans geen huis in die dorp waar nie een of meer in die hart gegryp is nie..."

Andrew Murray

Een van Dr. Andrew Murray se susters het die volgende rondom hulle vader en sy werk te sê gehad in 'n klein boekie getiteld "Unto Children's Children":

"Net so heilig soos die herinnering aan die Sondagaande is die herinnering aan die Vrydagaande wanneer ons vader gereeld ernstig om herlewing gebid het. Hy sou homself in sy studeerkamer opsluit en dan vroeëre verhale lees van die herlewing in Skotland en ander lande. Soms kom hy uit die studeerkamer te voorskyn met GILLIE'S "Collection" in sy hand, om dan daaruit vir ons voor te lees die verhaal van die uitstorting van die Gees op Schotts, of van die herlewing te Kilsyth en Cambuslang. Eenkeer lees hy ons iets voor aangaande leraars wat veertig jaar gebid het vir herlewing voordat dit gebeur het, en daarop volg hy: "Ja, en dat is langer dan zes-en dertig jaren." Ons kinders sal nooit vergeet hoe ons buite die deur van sy studeerkamer staan en luister het na sy luide geroep na God en sy ernstige smekinge vir die uitstorting van die Heilige Gees nie.

Hy het nie tevergeefs gebid nie. Vele kan hulle nog herinner hoe, op die Konferensie te Worcester in 1860, toe 'n golf van seëninge pas oor Amerika, Ierland, Skotland en Engeland gestroom het, en ook die kus van Suid-Afrika bereik het, sy stem hom heeltemal begeef het toe hy spreek van sy groot verlange na 'n herlewing. Binne een jaar van die datum val die seëninge op sy eie gemeente neer. Wie sal die vreugde van hierdie landbouer kan beskryf wat so lank geduldig gewag het op die kosbare vrug toe die lydsaamheid van sy hoop so ryklik beloon word. "Ek kan my die vreugde van pappa voorstel," skryf een van die kinders wat aan huis was; "Ek dink dat hy saam met Simeon kon gesê het : Nou laat U Here, U dienskneg gaan in vrede volgens U woord, omdat my oë U heil gesien het." Toe hierdie brief aan hom voorgelees was, het daar trane in ds Murray snr. se oë gekom en hy het gesê: "Dit is presies wat ek gevoel het".

Aangepas uit 50 dae van gebed van die Afrikaanse gemeente in Dubai