Die tien dae tussen die Hemelvaart en Pinkster het die karakter verkry van ‘n tyd van afwagting tot die Gees die Kerk nuut maak en uitstuur. Pinksterbidure het in die NG Kerk-familie so ‘n tyd van afwagting geword. Die bidure is egter nie ‘n gebruik in die res van die wêreldkerk nie.

In 1860 het groot herlewings in die Kaapse NG Kerk-familie begin opvlam. Andrew Murray het 'n groot aandeel gehad dat hierdie herlewings sterk sendinggerig was. Die herlewing het oor die hele land versprei.

Gebed en die werking van die Heilige Gees is beklemtoon. In sommige gemeentes is daagliks vir gebed bymekaargekom. Dit is hoe die Pinksterbidure ontstaan het. Dis daarom belangrik om in Pinkstertyd besondere klem te lê op ons getuienis na buite, en voorbidding vir sending en plaaslike sendingaksies te doen. Soos God vir Jesus gestuur het, stuur Hy ons nou verder met die krag van sy Gees.

Die Pinksterbidure is verder 'n goeie tyd om terug te kyk op die Paassiklus en om onsself af te vra hoe ons die beweging ‘from ashes (Lydenstyd) to fire (Pinkstertyd)' beleef het. Dit is ‘n tyd vir toegespitste vernuwing in die kerk. Veral is dit ‘n tyd waar die kerk ontdek dat sy ‘n vreemde organisasie is. Waar alle ander organisasies daar is vir hulle lede, is hierdie organisasie, die kerk, daar vir sy nie-lede. Die Missio Dei van die kerk is dat die Gees ons die wêreld instuur.