Inleiding

In sy bekroonde boek Wie was Jesus regtig? waarsku Francois Wessels dat daar in Suid-Afrika dikwels meer met die hart as die verstand geglo word.  So verplaas gelowiges dikwels die openbare gesprek wat ons geloof moet verantwoord na ‘n private innerlike ruimte. Hy noem dit 'n intellektuele emigrasie.

Dit is só anders as wat ons hier van Paulus sien.

Ek wil:

1.      stilstaan by dié gedeelte en die betekenis daarvan ontsluit vir ons, en dan aan die einde

2.      ‘n paar opmerkings maak oor die redelikheid van ons geloof.

Paulus in Atene

Paulus is in Atene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na daar 'n opstand rondom Paulus losgebreek het.  Dit is op die tweede sendingreis, waar hulle nou weens die Gees se werking ook in Europa, Griekeland, optree.

Griekeland was teen dié tyd nie meer 'n politieke mag nie, maar wel 'n kulturele en filosofiese mag.  Grieks was bv. steeds die amptelike wêreldtaal.  En hulle demokratiese model het tot vandag toe 'n groot invloed in die wêreld.  Die Nuwe Testament is ook in koine-Grieks geskryf.

Atene was destyds 'n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. 'n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine - waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is.  Amper 'n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd.  Atene het 'n ryke verskeidenheid, iets van die kreatiewe veelvoud van die skepping en die kultuur wat hieruit gegroei het, weerspieël. Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur.

Soos Lukas dit hier stel: "Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuut te sê of te hoor nie."

Paulus se strategie

Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad.  Maar let op dat hy nie sy verontwaardiging uitspreek en op ander mense aflaai nie.  Nee, hy begin waar hulle is, en hak mettertyd die evangelie daaraan.

Sy strategie is om eerstens in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te begin praat (διαλέγομαι - publieke optredes) en tweedens dieselfde te doen met die verbygangers op die stadsplein.  Dit is 'n goeie voorbeeld van Godsvallige ontmoetings - παρατυγχάνω - op die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is.  Aan die westekant was die Stoa Poikile, 'n pilaargang wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die retore, bymekaargekom het.

Hy kryt nie alles as boos uit nie, en hy begin nie om die afgodsbeelde en altare af te breek nie of geestelike oorlogvoering op die manier wat dit soms vandag gedoen word nie.  Hy begin eerder 'n gesprek daaroor!

Die filosowe begin met hom praat

Dan begin 'n klomp filosowe met hom in gesprek tree (συμβάλλω - eintlik 'n strydgesprek), veral Epikureërs en Stoïsyne, Lukas sê hulle het met hom gestry en hom 'n praatjiesmaker genoem.  Die woord kom van 'n beskrywing van 'n voël wat saadjies oppik, en wat ook gebruik is om mense wat stukkies kennis hier en daar oppik te beskryf.

Sommige het hom 'n boodskapper van vreemde gode genoem, omdat hy van "Jesus en die opstanding" gepraat het.  Leringe oor vreemde gode kon terloops met die dood gestraf word.  Die woord vir opstanding, Anastasis, kon vir hulle geklink het soos die naam van 'n godin, en vandaar die idee van vreemde gode.

Epikureërs (Epikuris - 3de eeu v.C.) was baie materialisties en praktiese ateïste - nie gedink dit is belangrik of nodig om God te soek nie.  Geluk en plesier was die enigste lewenstyl wat sin gemaak het.  Hulle het geglo dat die grootste goed was om eenvoudige plesier na te streef en pyn te vermy. Lewensgenot was die hoogste goed.  Dit kon jy kry deur kennis, vriendskap en matigheid. Dit staan teenoor die radikaliteit van die offervaardigheid van Christus en die lewe van gehoorsaamheid aan God in dissipelskap.

Epikurus het daarby geleer dat die hele wêreld bestaan uit atome en alles ontstaan het uit die toevallige bymekaar kom van die atome.  Klink dit nie verdag baie soos die modernistiese idee van die toevallige evolusie van alles uit 'n oersop van materie nie?  Voeg daarby hulle idee dat God de facto nie kan bestaan nie, veral vanuit die voorkoms van lyding in die wêreld, en dit is nie moeilik om die vertrekpunt van baie van vandag se moderniste se filosofiese idees oor God se nie-bestaan by hulle te vind nie.

Die Stoïsyne weer was panteïste wat geleer het dat die goddelike logos, die goddelike rede, die hele wêreld besiel en dat 'n redelike en deugdelike lewenstyl die meeste sin maak.  Dit is gebaseer op die idees van Zeno (ook 3de eeu v.C.) wat klem gelê het op self-beheersing en die regte gedrag ten spyte van impulse van buite af of selfs emosies van binne af. Innerlike onverstoorbaarheid en uiterlike gedissiplineerde optrede.  Die gode was onpersoonlik en 'n soort noodlot waarin jy moes berus.  Na jou dood keer jy terug na die kosmiese siel.

Die Areopagus wil hom hoor

Hulle neem hom toe na die Areopagus waar hulle hom kans gee om beter te verduidelik wat hy bedoel met die nuwe leringe, want dit het vir hulle baie vreemd voorgekom.  Die Areopagus is vernoem na Ares, die god van oorlog, ook Mars genoem.  Aanvanklik was dit op 'n heuwel wes van die Akropolis, soms ook Mars heuwel genoem, maar met tyd het die Areopagus na 'n saal in Atene geskuif waar uitsluitsel oor allerlei gegee is, ook oor sulke goed soos nuwe leringe.

Lukas onderbreek sy storie om net te sê dat die Ateners en ander uitlanders wat daar gewoon het, eintlik niks anders gedoen het as om iets nuuts te sê of na te luister nie.

Paulus praat (φημί) dan met die Ateners en hak aan by hulle godsdienstigheid (hy kon ook bedoel het, bygelowig) en lig spesifiek die agnostici uit - die mense wat 'n altaar gebou het vir die onbekende god (ἄγνωστος θεός).

Paulus se toespraak

Dié God verkondig hy dan aan hulle (en let op hy praat glad nie oor die Joodse geskiedenis nie, want dit sou nie relevant wees nie).  Hy begin met dít wat hulle in gemeen het in hulle denke oor God en vorder dan na die boodskap van die opstanding. Hy skets God:

  • as die Skepper, en hy doen dit uitvoerig met verwysing na die kosmos, die hemel en die aarde, en die skepping van mense.
  • Daarna skets hy God as die God van die Geskiedenis wat die nasies en hulle wel en wee bepaal. Interessant is dat hy nie hiermee eintlik die bestaan van die verskillende nasies en hulle grense in beton wil giet nie (soos dit verkeerdelik soms in die verlede verstaan is), maar dat hy eintlik wil wys hoe dit een God is wat die verskillende nasies tot gevolg het, en dat daar nie verskillende gode vir die verskillende nasies bestaan nie, 'n baie algemene geloof in daardie tyd.
  • Daarna gee hy vir hulle 'n antropologiese les. Hy sê dat God die mens gemaak het met 'n ingebore behoefte na Homself (iets wat Augustinus later ook sou sê). "God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind."
  • En dan gee hy 'n skets van God se teenwoordigheid, wat nie ver is van enigeen van ons nie. Om die waarheid te sê, "deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons" en "van Hom stam ons af". Hy gebruik hier twee aanhalings van hulle digters om die punt te maak dat ons in ons wese aan Hom verbind is en van Hom afhanklik is.
    • Die eerste frase "deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons" kom waarskynlik van Epimenides. Hoewel Epimenides begin by die lewende mens en van hieruit argumenteer tot by 'n lewende God, en die lering van Jesus eintlik presies die teenoorgestelde is (vgl. bv. Luk 20:37 e.v.), gebruik Paulus dit net as 'n aanknopingspunt.
    • Die tweede aanhaling, naamlik "ons stam van Hom ook af" is van beide Kleantes en Aratus. In hulle gebruik daarvan, is die lof van Zeus besing, maar weereens is dit net 'n aanknopingspunt vir Paulus.
  • En hy sluit met 'n afwysing van afgodsbeelde as 'n toegang tot God en 'n oproep tot bekering wat hy koppel aan die opstanding van Jesus.

Bruce wys daarop dat hy baie behendig die Epikureërs se leer dat God niks van die mens nodig het en daarom nie deur mense gedien  kan word nie, asook die Stoïsyne se geloof dat God die bron van alle lewe is, kombineer. Paulus praat dus met 'n soort retoriese tegniek wat hom soveel moontlik gemene grond met sy gehoor gee.

Die reaksie.  Die meeste lag hom uit.  Ander wil verder hoor.  En net 'n paar mense, onder andere Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou Damaris, en 'n paar ander kom tot bekering, of soos Lukas dit stel, word gelowig.  Dionisius was moontlik later die biskop van Atene.

Geloof is redelik

Die stryd tussen die rede en geloof is so oud soos die mens.

Een van die besware teen geloof is dat sommige geleerdes beswaar maak dat wat geglo word nie empiries bewys kan word nie.

Dit is so - en ons moet dit erken.

Maar dit is ook waar van baie ander dinge.  Die aannames waarop eksperimente berus, kan nie altyd self bewys word nie.

Maar dit maak nie noodwendig die aannames onredelik nie.

Alle mense het immers 'n hele klomp aannames (beliefs) wat nie noodwendig bewys kan word nie.  Maar dit bly steeds redelik om so te glo.

Dit is byvoorbeeld redelik vir my om te glo dat jou meisie of jou man vir jou lief is, omdat ek kan sien dat jy vir haar of hom belangrik is, dat jou geselskap geniet word, of dat hy op die hande gedra word.  Maar dit is net bewyse as ek met die aanname werk dat dit bewyse van die liefde is.  En ek hoef nie self vir haar of vir hom lief te wees om dit te glo nie of om die bewyse as getuienis te aanvaar nie.  Die koffie in die bed en die ete by Squires kan mos nie op 'n balansstaat opgetel word om te bewys dat die liefde eg of waar is nie.

Ek hoef dus nie my liefde eksperimenteel en wetenskaplik te bewys voor ek of ander dit kan of mag glo nie.  Dit moet net redelik wees.

Bewyse van ‘n wetenskaplike eksperiment, bv. wat die eienskappe van ‘n ligstraal is, berus in elk geval op een of ander aanname.  In die geval van ‘n ligstraal, bewys sommige eksperimente dat dit ‘n golf is, as jy met die aanname werk van wat ‘n golf is (dit het bv. ‘n frekwensie).

Maar as jou aanname is dat jy dink dat dit materie is, dan gaan die eksperimente dit ook bewys (dit het bv. massa).  Eintlik is die twee aannames uitsluitend, maar albei bewysbaar, en albei redelik.

Dit beteken dat alle feite altyd afhanklik is van een of ander verstaansraamwerk.  Daar is nie iets soos naakte of blote feite nie.  Dit word altyd geïnterpreteer en dan aan die toets van redelikheid onderwerp.  Jy kan nie ‘n onafhanklike waarnemer word van jou eie waarnemings nie!

Neem bv. die aanname dat alles wat ons vandag sien, die gevolg is van natuurlike seleksie.  As jy met hierdie aanname werk, dan maak dit sin.  Wat jy waarneem, sal vir jou as bewyse daarvan dien.  Sterker diere oorleef makliker as swakker diere, en as iets gebeur in die omgewing wat ‘n dier met ‘n spesifieke eienskap bevoordeel, dan oorleef dié spesie.

Maar as jy die aanname van natuurlike seleksie as verklaring vir jou waarneming laat vaar, dan word die oorlewing en uitsterwe van sekere diersoorte absurd en moet jy ander verklarings kry.  Die waarneming is net bewyse as jy met ‘n spesifieke aanname werk, anders nie.

En, let op, ek maak nie nou ‘n uitspraak of dit waar is of nie, net of dit redelik is of nie, en volgens die aanname, lyk dit vir my wat ‘n leek is, na ‘n redelike geloof.

En dit is diesélfde tipe redelike geloof wat ons bely as ons sê dat ons in Jesus Christus glo wat gebore is, gekruisig is, opgestaan het uit die dode, opgevaar het na die hemel, en sy Gees op ons uitgestort het.  Ons kan met baie redelikheid die hele storie vertel, ons kan na ‘n verskeidenheid bronne gaan om dit te verduidelik, ons kan die ontwikkeling van die Christelike geloof verduidelik, ons kan ons eie geloofstorie vertel, en dit alles gebruik om te wys dat sin maak en redelik is.  Ons kan selfs die gevolge van ons geloof verduidelik en aantoon wat nog meer gewig gee aan die redelikheid daarvan.

En dit maak mos sin.  Ons aanname is dat God daar is en dat dit daarom redelik is om in Hom te glo.  Hebreërs sê mos: "Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon." (11:6)  En ons kan met oortuiging dit verkondig, sonder dat ons eers iets onafhankliks daarvan hoef te bewys of nie.

Ons dink bv. oor God dat Hy die antwoord is op die vraag waarom daar iets is, eerder as niks nie.  Dit is redelik, al kan ‘n mens dit nie bewys nie.  Die wetenskap kan nog minder oor die bestaan van die heelal bewys.  Selfs met al die teorieë oor die Big Bang, of oor die Big Crunch, want sommige is mos bang die heelal stort op homself in, kan wetenskaplikes steeds nie ‘n antwoord gee, wat empiries bewysbaar is, hoekom daar iets is eerder as niets nie.

Geleerdes wat hieroor skryf, sê die wetenskaplikes gaan gewoonlik nie ver genoeg terug in hulle ondersoeke en eksperimente nie (Eagleton).  En dan neem hulle nog in die laaste instansie hulle toevlug tot ‘n onsinnige geloof, toeval.

Dit is baie meer redelik om te aanvaar dat God gesorg het dat daar iets is eerder as niets, bv. deur te kyk na die ordelikheid daarvan, die skoonheid daarvan, die samehang daarvan, die wye voorkoms van die geloof daarin ens, as om te dink dat dit toevallig gebeur het.  Toeval is ‘n dwase geloof.

Maar, onthou, jy kan altyd net jou geloof op die tafel sit, en dit op ‘n redelike manier, sodat ander kan beoordeel of dit sin maak of nie. Om die waarheid te sê, die Here verwag van ons dat ons juis dit sal doen (1 Pet 3:15-16 - "Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe ... Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God!".)

En die redes wat jy gee vir jou geloof, sal natuurlikerwys uit jou geloof in God voortspruit - want dit is jou aanname, dat Hy bestaan - net soos enige ander persoon redes sal gee vir sy geloof wat uit sy geloof sal spruit!

Jou redes is nie onafhanklik van jou geloof nie, dit kom daaruit voort en gee vleis daaraan (Lees gerus wat Stanley Fish - New York Times - hier sê op sy blog: http://fish.blogs.nytimes.com).

Die ateïste is verbasend onontwikkeld op hierdie vlak, want die enigste en beste wat hulle mee vorendag kan kom, is, dit was toevallig.  Maar dit is nou soos die ou tannie wat ‘n versekeringseis ingedien het, omdat ‘n boom toevallig voor haar ingeswaai het in die pad.

Nie redelik nie!

Uitdaging

Ek daag jou dus uit: Raak betrokke in gesprekke waar jou geloof uitgedaag word.  Moenie bang wees daarvoor nie.  Wees net redelik, fokus op die betekenis daarvan vir jou en maak dit ‘n oop gesprek.  En onthou om ook te luister, want dit moet ‘n ware gesprek wees!