Die hartland van die Christelike geloof skuif gedurig

Die worsteling met diversiteit is nie 'n nuwe ding nie. Inteendeel, dit is interessant as 'n mens terugkyk oor die afgelope 20 eeue, hoedat die geskiedenis van worstel met identiteit homself telkens herhaal.

Die sentrum van die Christelike geloof skuif gedurig.  Die Christelike geloof het 'n herhalende patroon waarvan die hartland gedurig aan't skuif is (Andrew Walls, The Cross-Cultural process in Christian History; studies in the transmission and appropriation of faith, 2002).

Tydens Jesus se hemelvaart was Jerusalem en Palestina die sentrum van die vroeë kerk. Ná die vervolging in Jerusalem begin (hfst. 7-8), vind die verspreiding van Christene oor die bekende wêreld van daardie tyd plaas. Só skuif die hartland van die Christelike kerk algaande na Klein-Asië, Europa, Rome, en ‘n paar eeue later na Egipte en Noord-Afrika. Dit beweeg oor geografiese, politieke, etniese en godsdienstige grense heen.

Walls beskryf dié proses (2002:32):

"In each case a threatened eclipse of Christianity was averted by its cross-cultural diffusion. Crossing cultural boundaries has been the life blood of historic Christianity. It is also noteworthy that most of the energy for the frontier crossing has come from the periphery rather than from the centre.

Die kerk steek hier die godsdiens grens oor na alle kulture

En dit is wat ons hier in Handelinge ook sien.

Die eerste grense wat oorgesteek was, was Joodse grense: na die Jode van ander nasies wat in Jerusalem vir die Paas- en Pinksterfees was; na die Joodse Raad; na die Grieksprekende gelowiges wat saam met die Hebreeussprekende gelowiges in een gemeente ingesluit is; na die half-Joodse Samaritane, na die Ethiopiese Jood op pad na sy geboorteland.

Alles dra by tot die groei van die kerk.

Maar tog bly die kerk steeds ‘n Joodse verskynsel.

Tot in Handelinge 10 met die epogmakende skuif van die evangelie na heidene, nie-Joodse mense, mens van ‘n ander kultuur en ‘n ander godsdiens.

En dit is insiggewend dat die Here die hoofindoena van die kerk van Jerusalem, Petrus, kies om die eerste treë te gee op hierdie pad.  Hy was ‘n getemperde leier, wat met groot vrymoedigheid en oortuiging opgetree het, van die verkiesing van Mattias af in hfst 1, regdeur al die toesprake op Pinksterdag en tot by die tempeltoespraak na die verlamde man se genesing en die gevolglike verskyning voor die Joodse Raad.

En met die optrede van Stefanus en Filippus in Jerusalem en Samaria, is die tyd ryp vir die volgende skuif.  En God gebruik vir Petrus.

Twee hoofstukke in Handelinge (10-11) word gewy aan Petrus se kultuur-en veral godsdiens-bekering wat hierdie skuif begin en motiveer en wat ook tot die bekering en grensoorskryding van die kerk lei.

Daar is drie perspektiewe wat my getref het, hoe dié bekering moontlik geraak het.

  • Die eerste is hoe God daarin gewerk het.
  • En die tweede is die wyse waarop vooroordele opgehef is.
  • Die derde is die rol wat gasvryheid gespeel het.

1.  God beweeg hemel en aarde om Kornelius te bereik!

Die verhaal begin met ‘n skets van Kornelius wat God dien, maar tog nie ‘n praktiserende Jood geword het nie.  In die oë van die Jode was hy dus nog ‘n heiden, van ‘n ander geloof of godsdiens.

Maar dit is juis hierdie heiden, hierdie man wat nie net van ‘n ander kultuur en ‘n ander etnisiteit is nie, maar boonop ook nog van ‘n ander godsdiensoortuiging is, wat deur die evangelie bereik word.

Hoe wonderlik dat ons hier leer dat God nie partydig is nie.  God tref nie onderskeid nie. Die mens se uiterlike voorkoms of uiterlike sosiale of godsdienstige verbintenis speel nie vir God 'n rol nie, want God meet nie volgens menslike standaarde nie. God is Iemand wat veel meer geïnteresseerd is in mense se houding teenoor Hom.  God verwag van die mens eerbiedige respek vir Hom en en gehoorsaamheid aan sy wil. Daarom geniet Kornelius God se guns en seën.

En dit is wat ‘n mens sien in die lewe van Kornelius, die kaptein in die Italiaanse regiment, wat só gelewe het en daarom God se guns en seën geniet het.  Om die waarheid te sê, God het hemel en aarde beweeg om aan hierdie eerbiedige man sy genade in Jesus te gee:

  • ‘n Engel van God word gestuur om ‘n persoonlike woord aan hom te spreek,
  • Petrus kry ‘n visioen (3 keer) om hom oor te haal om Kornelius se vriende te ontvang,
  • en onder die preek van Petrus bars die hemel oop om die genade van die Heilige Gees in ‘n "Klein Pinkster" oor hulle almal uit te stort. Dis asof God nie kon wag dat Petrus nog klaar praat nie, Hy wou hierdie mens Kornelius en almal rondom hom seën!
  • Anders as met Pinkster, kom die Gees nie sigbaar en hoorbaar deur wind en vuur nie. Die koms van die Gees is egter herkenbaar in die herhaling van die spraakwonder van Pinkster (vers 46 - hoewel dit moontlik glossalie was) en die lof wat aan God gebring word.

God deurbreek so die vooroordele van die Jode

En Hy vestig 'n nuwe grondbeginsel vir die kerk: "ook die nasies".  Dit is ‘n nuwe konsep vir die Joodse gelowiges.  Aan die een kant was dit natuurlik van altyd af God se visie dat die totale skepping en mensdom aan Hom behoort.  Maar dit is deurgaans eintlik deur sy mense misverstaan (dink maar net aan die verhaal van Jona).

Maar aan die ander kant is dit nuut vir die Joodse en nou Christelike verstaan van die evangelie.  Wat ook beteken dat waar dié deur eenmaal oopgenaam is, dit nooit weer afgeswak mag en kan en sal word nie.  Dís die tipe God wat Hy is, en dís die tipe mense wat aan Hom behoort - almal!

En God bevestig sy keuse vir almal deur die gebeurtenis van die "Klein Pinkster", die uitstorting van die Heilige Gees, sommer sonder seremonie op almal wat daar staan en luister het.

Die boodskap is: God neem uit elke nasie dié mense aan wat Hom vereer (respekteer) en doen wat reg is.  Dit is soos Hy is.  Dis waarop ons kan reken.  Elkeen wat in Hom glo, ontvang vergifnis en word deel van sy familie.  God is nie partydig nie.

2.  God hef vooroordele op

God laat Wie Hy is en Hoe Hy Homself laat ken en Hoe Sý mense in hierdie wêreld lewe nie aan die voorkeure van sy mense of aan die toeval oor nie.  Nee God tree beslissend op om die vooroordele juis van die mense in sy geledere te verander en hulle nie te laat opgaan in ‘n eksklusiewe kliekvorming nie.

Dis gevolglik nie net Kornelius wat "tot bekering" kom - as verteenwoordiger van die nasies - nie.  Dis ook Petrus - as verteenwoordiger van die kerk!  "Waarlik, ek begryp nou eers ..."

Wat gebeur met Petrus?  Hy belewe 'n paradigma-verskuiwing. Soos dit telkens vandag ook maar is, is ons minder oop vir mense as wat ons dink.  Daarom was daar 'n duidelike teenkanting teen die inskakeling van gelowiges uit die heidene by die kerk.  Maar God laat Hom nie afsit deur die stywe nekke van sy mense nie.  Hy breek die persepsies wat ons van mekaar het af en laat egte gemeenskap tot stand kom.

En die belangrike wending (bekering) by Petrus sien ons in sy getuienis dat hy nou begryp dat God só is, dat Hy nie-Jode volledig inlyf in Sý kerk.   Die insig dat volksverbande in die Christelike kerk gerelativeer word, bring bekering!

Hierdie toespraak in Kornelius se huis neem dus ook 'n besondere plek in Handelinge in omdat dit die eerste sogenaamde "heidenprediking" is (Roloff). Die saak het reeds in beginsel begin aandag geniet toe die Etiopiër tot bekering gekom het (Hand 8:26-40). Dit het egter tot nou geen permanente invloed op die kerk gehad nie (Marshall).

Hoe belangrik hierdie gebeurtenisse was, blyk uit die verwysing deur Petrus daarna in sy verdediging in Jerusalem (Hand 15:7-9). Dit word ook benadruk dat hierdie keuse nie deur mense gemaak is nie, maar deur God self. Dit gaan dus hier oor 'n beslissende gebeurtenis in die geskiedenis van die vroeë kerk, naamlik dat die evangelie Jode en Grieke geld.

Ook die besnyde gelowiges, dit wil sê die Joodse Christene, was baie verbaas oor die uitstorting van die Gees en kom tot bekering.  Vir die Jode was die besnydenis immers die maatstaf wat bepaal het of 'n mens 'n Jood was en dus aan die volk van God behoort het.  Laasgenoemde was uiters belangrik aangesien God sy Gees volgens hulle net aan Israel belowe het.  Selfs die godvresendes uit die heidendom was dus nie volledig as deel van God se volk gereken nie.  Hulle kon dus nie deelneem aan die pasga-maal nie (Eks. 12:44) en kon nie verder as die voorhof van die heidene gekom het nie.  Let op, laasgenoemde was nie gereserveer net vir heidene nie, maar is so genoem omdat heidene ook daar toegelaat is.

Die koms van die Gees op hulle het egter die Christene uit die heidendom se status finaal verander.  Hulle was nou volwaardig deel van God se familie.  Aanvanklik was die Joodse Christene net verbaas oor die toedrag van sake, maar later het hulle God hieroor geprys (11:18).  Die belangrikste is egter dat hulle self getuies was daarvan dat God besluit het dat die heil ook vir die heidene bedoel is (11:12).  Hulle het naamlik by Kornelius en sy mense van die tekens gehoor (dat hulle die heidene in tale hoor praat en God prys) wat die uitstorting van die Gees op Pinksterdag vergesel het.  Dié dat hulle sê dit was "net soos ons?" (vers 47).

Let ook op: Bekering is Bybelsgesproke nooit net ‘n individuele vertikale bekering nie.  Dit dra altyd 'n gemeenskapskarakter.  Die punt is die kerk is 'n familie en dis die tipe metafoor waarmee ons ook in dié jaar moet werk.  En ons het bekering nodig om hieraan gehoorsaam te word.

Dit het ‘n impak oor hoe ons die mense in ons straat beskou / die mense wat by en vir ons werk / die mense saam met wie ons op ons paaie ry / die mense wat oor ons aangestel is / die mense in ons kerkfamilie / die mense in hierdie wye wêreld waaroor God sy genade wil uitstort.  God neem uit elke volk en nasie dié mense aan wat Hom respekteer en wat doen wat reg is - ons moet doen wat reg is / ons moet Hom respekteer en eerbiedig.

3.  God gebruik gasvryheid

Wat baie insiggewend is, is dat God gasvryheid gebruik as die manier waarop die Gees deur die grense kan breek.

En daarmee word dit ‘n model vir die oorsteek van grense - om in gasvryheid mense in te sluit en ook om die grense na hulle gasvryheid oor te steek.  So het Jesus immers sy dissipels in Lukas 10 uitgestuur om die gasvryheid van die Jode te geniet en in die proses die evangelie te verkondig.  En Jesus self bly 2 dae by die Samaritane in Sigar en geniet hulle gasvryheid en verkondig die evangelie.

Petrus geniet die gasvryheid van Simon, die leerlooier in Joppe, toe die 3 mans hom kom vra om Kornelius in Sesarea te besoek.

Met Petrus se intrek by Kornelius, en die genieting van sy gasvryheid, het dit wat vroeër ongehoord was, nou werklikheid geword het: dat 'n Jood saam met mense geëet het wat nie Jode was nie.  Dat Petrus in die huis van Kornelius gebly het en tafelgemeenskap met hom beoefen het, is 'n bewys dat hy Kornelius ten volle as Christen beskou en aanvaar het.  Só maak Lukas dit bekend dat die bekeerde heidene nie meer as onrein beskou is nie.  Niemand het blykbaar ook voorgestel dat Kornelius besny moes word nie.

Gasvryheid raak dus die kanaal waardeur die evangelie beweeg van Jood na heiden en so verder.  En dit raak ook die voertuig waardeur die Jode die heidene in ‘n ander lig begin sien, as mense vir wie God lief het en wat die evangelie moet hoor.

Die gedeelte leer ons dus om verby ons aannames en vooroordele te beweeg.

Die kerk maak die skuif na insluiting van ander kulture

Die verhaal vorm dus deel van ‘n baie belangrike storie van die eerste gemeente in Handelinge, hulle insluiting van nie-Jode, d.w.s. heidene in die gemeente van die Here.  Dit het beteken dat die kerk ‘n beslissende skuif na die insluiting van ander ander kulture gemaak het.

Daar is daarom eintlik nie ‘n manier om die betekenis hiervan te oorskat nie.  Met die verblyf van Petrus en die Joodse gelowiges by Kornelius het hulle ‘n gemeenskapsgrens oorgesteek, wat nooit weer terug getrek mag word nie.  Die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden is weggeneem.

Dit vervul die beloftes in die Ou Testament - Genesis 12 en Joël 2-3 om maar net twee te noem - dat die nasies ingesluit is in God se plan vir die kerk.

Dit is ook duidelik dat hier `n nuwe episode vir die kerk begin: mense wat nie Jode is nie word ingesluit in die kerk en klaarblyklik gaan daar nie van hulle verwag word om in te val by Joodse godsdiensgebruike nie!

Die kerk moet altyd weer sy grense oorsteek

En dit bly iets wat die kerk se wese bepaal.

Reg rondom die Middellandse See het die evangelie na dié gebeure soos 'n vloedgolf versprei. Rodney Stark en sy span navorsers se werk oor The Rise of Christianity (1997: San Francisco: Harper) vertel hoe hierdie, eintlik obskure groep, van ongeveer 7 000 gelowiges oor drie eeue heen gegroei het tot die dominante geestelike invloed wat die Westerse wêreld in sy diepste wese beïnvloed het. Teen die tyd dat Konstantyn die Christelike kerk tot staatsgodsdiens verklaar het, was 33 miljoen van die 56 miljoen mense in die Ryk geassosieer met Jesus, die Here (Kurios).

En ons moet vir mekaar sê, die kerk se toekoms lê in voortdurende oorsteek van grense.

Luister weer na Walls (2002:78-79):

There are two dangers. One lies in an instinctive desire to protect our own version of the Christian faith, or even to seek to establish it as the standard, normative one. The other, and perhaps the more seductive in the present condition of Western Christianity, is the postmodern option: to decide that each of the expressions and versions is equally valid and authentic, and that we are therefore each at liberty to enjoy our own in isolation from all the others.

Die patroon van die eerste eeue, is weer op 'n dramatiese globale skaal aan die afspeel.

Oorweeg die volgende gegewens (uit Lamin Sanneh: Whose religion is Christianity? Grand Rapids: Eerdmans, 2003).

Teen 1962 verlaat die meeste sendelinge Afrika. In dié stadium is daar in Afrika 60 miljoen Christene en 145 miljoen Moslems.

Toe gebeur die Handelinge 10-proses en die evangelie kry sy vrye loop in Afrika. Tussen 1970 en 1985 is daar gemiddeld 16 500 bekerings per dag in Afrika tot die Christelike geloof... en 'n leegloop van kerke in die Noorde en Weste.

In 2005 tel Afrika 408 miljoen mense wat met Christus assosieer, 46% van sy bevolking. Moslems tel 355 miljoen, 40% van die Afrika-bevolking.

Dit sê mos vir ons, die kerk se geestelike heil en toekoms lê daarin dat dit voortdurend oor grense gaan.

Die kerk moet sonder ophou strewe om saam met "die ander" aan tafel te gaan sit. Dit is ook waar van die nagmaalstafel.  In die breek van brood en die drink van wyn moet dit Jesus se visie op die wêreld gedenk.

Die groter vreugde en bevryding vir die kerk is om saam met ander uit te beweeg na die uitdagings van ons gebroke wêreld. Die Een aan wie alle mag gegee is, kán dit verander. Hy spesialiseer in die doen van die onmoontlike. Kultuur- en godsdienstige grensoorskryding is 'n hekkie ... maar die oorwinning daaroor is 'n deur tot die lewe en hoop vir die wêreld!

Die evangelie is vir almal bestem

Ek sluit af.

Die evangelie van Jesus Christus is goeie nuus en dit is vir die hele wêreld bestem.

Die oomblik dat jy dit vir jouself hou en God vir jouself en vir jou eie belang opeis, begin die stadige kanker van geestelike dood intree.

Die oomblik egter dat jy die deure van jou hart en lewe vir ander oopmaak - in navolging van Christus se koms aarde toe - en jy daarmee oor die grense van jou eie lewe, kultuur en belange beweeg, word die liefde en diensbetoon, die gemeenskap en genade, die reg en vrede van God se teenwoordigheid herontdek.

Soos wat dit inspoel in mense se lewe en kultuur en dit omswaai en suiwer, bring dit ongekende nuwe lewe.

Dit is waarvoor ons ons lewe moet gee!

Stories:

‘n Verhaal wat gebruik kan word: Angel Child, Dragon Child van Michele Maria Surat

Vertel die verhaal (boek in die meeste biblioteke beskikbaar) as inleiding tot ‘n gesprek oor Petrus en Kornelius.

Ut, ‘n jong Viëtnamese meisie, wat gevlug het uit haar land, beland in ‘n skool, waar sy sleg behandel word deur haar maats, omdat sy anders is.  Sy mis haar mense en veral haar ma.  Die skoolhoof besluit om vir haar ‘n opdrag te gee om haar verhaal neer te skrywe, saam met Raymond, een van die kinders wat haar geboelie het.  Nie Ut of Raymond is baie lus daarvoor nie, maar gehoorsaam die skoolhoof.  Dan gebeur die wonder.  Terwyl hulle saam aan die storie skryf, begin Raymond begrip kry vir Ut se situasie en hulle raak maats.  Raymond reël dan ‘n kermis om geld in te samel om Ut se ma uit Viëtnam te laat kom.

Skets dan die situasie wat tussen die Jode en die Romeine geheers het.  Die Jode het nie in die huise van die Romeine gekom of saam met hulle geëet nie, want hulle het die Romeine as heidene en onrein geag.  Dit was dus vir Petrus ongelooflik moeilik om na Kornelius te gaan en die evangelie met hulle te gaan deel.  Omdat God egter sy hart verander het, was Petrus gehoorsaam en het dit tot die eerste bekeerlinge uit die heidennasies gelei.

So moet ons ook mense wat anders is as ons opsoek en met die liefde van die Here aanraak.