6 Bewegings

Handelinge kan opgedeel word in ongeveer 6 breë bewegings wat telkens afsluit met 'n paar opsommende opmerkings van Lukas oor die vestiging en uitbreiding van die woord van God en die getal gelowiges.

Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, kultureel, eties,  intellektueel, en polities.

Eerste beweging: 1:1-6:7 - Jode in Jerusalem

Die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in Jerusalem deur die werk van Petrus en Johannes en die ander apostels.  Dit sluit 'n hele lys van "godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son" (2:5) in wat op Pinksterdag na Petrus-hulle luister: Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere.   'n Verlamde man word genees wat tot 'n groot stuk getuienis teenoor die Joodse volk en twee keer teenoor die Joodse Raad lei.

Dit sluit af met die opmerking in 6:7 - "Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs 'n groot aantal priesters het gelowig geword."

Drie grense word hier oorgesteek:

1.      Die eerste interne Joodse gemeenskapsgrens na Jerusalem en die Joodse Raad word deur die gemeente oorgesteek, sowel as

2.      die eksterne Joodse gemeenskapsgrens na die godsdienstige Jode uit al die ander nasies.

3.      En die gemeente self steek die grens oor tussen die Hebreeussprekendes en Griekssprekendes deur hulle weduwees gelyke behandeling met die daaglikse versorging te gee.  En sewe Griekssprekendes word aangestel om dié werk te verrig, waaronder Filippus waarvan ons nou gaan lees.

Tweede beweging: 6:8-9:31 - Jode in Judea, Samaria en Afrika

Die goeie nuus oor Jesus versprei geografies, na die vervolging wat met Stefanus se marteldood begin, merendeels na Jode in Judea, Galilea en Samaria (van gemengde Assiriese en Joodse afkoms) sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar - heel moontlik een van die godsdienstige Jode op pad terug na die Paasfees nadat hy God daar gaan aanbid het) met die Griekssprekende evangelis Filippus se grensoorskryding wat veral uitgesonder word, hoewel 8:4 sê dat dit 'n beweging van gewone gelowiges was: "Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig."

Die beweging sluit af met die opmerking in 9:31 - "In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe, die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem."

Die horisontale geografiese uitbreiding begin sy aanvang neem, maar hier word die grense nog merendeels na Jode in ander dorpe en stede oorgesteek, wel ook na Jode van 'n ander etniese groep.

Oor Filippus:

Twee spesifieke stories van Filippus se grensoorskryding, een van die sewe brugbouers (nie die apostel nie), ‘n Grieksprekende Jood, word vertel:

1.      Sy uitreiking na ‘n stad in Samaria (moontlik Samaria self, wat in dié tyd oorwegend Grieksprekend was;

a.      Dit kon Sigem gewees het, naby Sigar, wat tot vandag toe eintlik die middelpunt van die Samaritaanse lewe was. Dit word vandag Neapolia genoem.

b.      Interessant is dat Sigem ook met Abraham verbind word [Gen 12:6] en dat Stefanus juis in sy toespreek na Sigem verwys [7:16]).  Dit word nou die plek waar die evangelie vir die tweede keer aan die Samaritane verkondig word.  Jesus het dit die eerste keer in Sigar gedoen aan die Samaritaanse vrou by die put.

c.       Dit bly verrassend dat Jesus in Matt 10:5 eintlik sy dissipels verbied het om die evangelie aan Samaritane te verkondig, maar tog self die ontmoeting met die Samaritaanse vrou gebruik het om die dorpie te bereik.  En hier kom die evangelie nou na hulle toe in die persoon van Filippus.

2.      die Etiopiër op die pad na Gasa toe, wat ‘n volgende grens is wat oorgesteek word, sosiaal-maatskaplik, etnies en ook godsdienstig ('n ontmande was nie welkom in die Joodse gemeenskap nie).

Lukas het dié stories heel moontlik gehoor toe hy later by Filippus en sy 4 profetes-dogters in Sesarea oorgebly het (21:8).

Lees die verhaal - Handelinge 8:26-40

God se beplanning

Die eerste perspektief wat ek op die tafel wil sit, is dat dié ontmoeting met die Etiopiese amptenaar haarfyn deur God beplan is.

Eers praat die Engel van die Here, baie keer met God self geassosieer in die OT, met Filippus om na die pad van Jerusalem af na Gasa te gaan.

Dan praat die Gees (λέγω) direk met Filippus, en beveel hom om te gaan loop saam met die wa van die Etiopiese amptenaar (8:29).

En na die Etiopiër tot geloof kom en gedoop is, neem die Gees van die Here vir Filippus weg (ἁρπάζω) (8:39).

Dit is nogal 'n algemene ding in Handelinge - dat God mense inspan om Sy beplanning uit te voer.  Die gemeente en die leiers wag op God voordat hulle optree.

Begelei om te verstaan

Die tweede perspektief wat ek op die tafel wil sit, is die groot klem wat Filippus plaas op begrip van die evangelie.

Een van die groot hermeneutiese vrae van ons dag is volgens Dirkie Smit: "Verstaan jy eers iets as jy spesifieke metodes gebruik het om dit te verklaar of nie?" (Neem, Lees, 2006:66)

Daaragter lê die konflik tussen verklaar en verstaan, tussen die meer objektiewe, beskrywende verklaring van iets en die meer subjektiewe, toe-eienende, toepassende verstaan van iets.

Filippus se intree-vraag aan die Etiopiese amptenaar bly relevant tot vandag toe nog: "Verstaan jy wat jy lees?" (:30)

Deur ‘n interessante woordspel op die woord γινώσκω (verstaan) in die oorspronklike Griekse vraag: γινώσκω ἀναγινώσκω (verstaan jy wat jy lees), wys Filippus hoe verstaan nie gelyk is aan lees nie.

Die antwoord van die amptenaar is netso relevant.  "Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?" (:31) antwoord hy vir Filippus.   Die woord wat hy gebruik vir "uitlê" is ὁδηγέω, wat beteken om te "lei" of "begelei" (soos ‘n gids).  En dít is presies die tipe begeleiding wat Filippus vir hom gee.

Hy klim saam met die amptenaar op die wa en begin ‘n lewensveranderende reisgesprek met die amptenaar.  Hy sluit aan by die vrae wat die amptenaar het oor die lees van die teks (Jes 53:7-8) en beweeg daarvandaan na die evangelie van Jesus Christus.

Die evangelie gaan vir hierdie amptenaar oop, en dit is interessant dat hy vra of iets nou gaan verhinder dat hy gedoop word.  En met ‘n eenvoudige geloofsbelydenis klim Filippus en hy by ‘n riviertjie af en hy word in die koninkryk van God ingedoop.

Filippus steek grense oor

Die derde perspektief wat ek op die tafel wil sit, is die grense wat in dié verhaal oorgesteek word:

  • Hy was kennelik 'n vername man wat hoër op die sosiale leer was as Filippus. Hy was ook heel moontlik ryk, omdat hy die minister van finansies van sy koningin was. Daarby was hy van 'n ander ras. 'n man van Kus uit Afrika, Ethiopië aan die onderpunt van Egipte.
    • Interessant is die storie wat in Jeremia vertel word van 'n ander Etiopiër Ebed-Melek (slaaf van die koning), wat ook 'n ontmande was en in die paleis gewerk het. Met Jeremia se ontberinge in die put het hy ‘n bevel van die koning gekry om hom daar te gaan uithaal, waarna Jeremia toe in die koning se binneplaas gebly.
  • Maar die belangriker grens in terme van die Bybelse verhaal, is dat hy 'n ontmande was. En laat ons onmiddellik onthou, dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (Deut. 23:1).
  • Die interessante is dat hy in Jesaja lees, en die vraag is of hy nie ook die gedeelte in Jes. 56:3-5 gelees het wat juis 'n toekoms vir ontmandes voorspel: "'n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. 'n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar 'n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure 'n teken gee, 'n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense 'n naam gee wat nie uitgewis sal word nie."

Filippus volg die leiding van die Gees en steek hierdie grense oor om hierdie man met die evangelie van Jesus Christus te bereik.

Die betekenis vir ons

Ek dink dit lê op drie vlakke:

  • Om na God te luister en Hom te volg in sy leiding. Ons het gister al verwys na die apostels wat op gebed en die woord sou konsentreer. Die orde is nogal vir my relevant: om God se wil uit te vind is die sentrum van die lewe. Daarsonder kan 'n gemeente nie sy roeping vervul nie. Dit is onder andere waarom ons sulke geleenthede soos Pinkster het, maar ook ons eredienste en kleingroepe.
  • Ons moet erns maak met ons begeleiding van mense om regtig te verstaan. Dit beteken dat ons aan ons taal en musiek en kommunikasie moet werk, sodat mense KAN hoor.
  • Die derde vlak waaraan ek meer aandag wil gee, is die grense wat ons moet oorsteek.

Etnisiteit

Etnisiteit was eintlik 'n grens wat Filippus maklik oorgesteek het.  Eintlik is dit waar van al vier grense wat ek hier bo genoem het.  Die godsdienstige grens het 'n groter potensiaal gehad om hom af te sit, maar dit het nie.

As ons egter na ons dag kyk, is dit steeds 'n grens wat baie mense onder ons moeilik oorsteek.

Ons sukkel steeds met kleur in ons land.  Selfs die stemmery in die onlangse verkiesing volg basies kleur skeidslyne.

Nie dat ons nie weet dat dié eenheid wat God bring rondom die evangelie, soos die verhaal van die Etiopiër ons weereens herinner, die grense van ras moet oorsteek nie, sodat kleur, etnisiteit, en kultuur nie in ons pad staan om ‘n ware reënboog gemeenskap as beeld van God te vorm nie.

Want dít is waaroor dit gaan - ons almal is die beeld van God, en elkeen van ons het ‘n bydrae om te lewer.  As een van ons ons afskei, en nie wil saamstaan om God te verteenwoordig op hierdie aarde nie, dan skend ons die beeld van God.

Ons kan leer by kinders

Ek het onlangs ‘n kragtige boek van ‘n African-American, Brenda Salter McNeil,  A Credible Witness, gelees, waarin sy op treffende wyse hieroor skryf.

En sy vertel ‘n storie van haar jong kind wat haar lof besing het by sy onderwyser, en dié toe vir haar genooi het om met die graad vier klas oor rassisme te kom praat.

En het hy haar gewaarsku, sy moenie droogmaak en hom in verleentheid bring nie!

Sy besluit toe om ‘n puzzle te bou met hulle en deel vir elkeen ‘n stukkie van die puzzle uit.  En begin toe haar praatjie om eers te praat oor puzzle bou, en uit te vind hoe hulle dit gewoonlik doen - om dan uiteindelik natuurlik ‘n boodskap daaruit vir hulle te onderstreep, oor rassisme - dat almal van ons mekaar nodig het as die beeld van God.

Maar terwyl sy begin verduidelik, sien sy agter in die klas ‘n klompie wat besig is met iets, sy weet nie wat nie, maar hulle luister nie na haar nie.  Sy loop toe nader en kom agter, hulle is besig om die stukkies van die puzzle in mekaar te begin pas, sonder dat sy nog vir hulle die opdrag gegee het om dit te doen.

En toe sy hulle daarna vra, sê hulle:  "The pieces are supposed to go together.  It doesn't make any sense if we don't put all of our pieces together." (2008:85)

Om Christus te kies is ook om vir sy liggaam te kies

Wat ‘n tydige boodskap - uit die mond van kinders!  Ons is bedoel om saam te wees.  As ons nie al ons stukkies by mekaar sit nie, dan maak die beeld nie sin nie.

En ons as kerk moet dié woord goed hoor.  Tony Campolo sê in die voorwoord van Salter se boek: "A church that is not unified is a scandal and a contradiction of the gospel."

Salter McNeil onderstreep ‘n sentrale waarheid in haar boek, dat om Christus te kies, is om ook vir sy gemeenskap te kies - en dié gemeenskap is opgebou uit elkeen wat die naam van Christus noem, wat kies om met Hom geassosieer te word, wat bely dat hulle deur Hom uitgekies is om deel van sy liggaam te wees.

En die ongelooflike voorreg van só deel van sy gemeenskap te wees, is dat ons eenheid, midde in ons diversiteit, ons verskille van ras en kleur en kultuur, een van die kragtigste maniere is om die werklikheid van wat Jesus vir ons in Paasfees aan die kruis bewerk het, en deur die Gees op alle mense met Pinksterdag uit te stort, te demonstreer ... sodat die wêreld kan glo.

Ons het ‘n nuwe storie nodig

Ek dink ons as kerk het ‘n nuwe storie nodig in dié land van ons - ‘n storie wat sin maak, ‘n storie wat die moeite werd is om voor te lewe, ‘n storie wat vir ons vertel wie ons is en wat ons sin en betekenis in die lewe gee.  En dit is ons almal se storie, elkeen van ons het ‘n rol daarin, soos ‘n stokvel, om die gesamentlike storie te kan skryf wat sy oorsprong het in die feit dat God vir ons lief is net soos ons is, swart, wit, bruin en geel, en ons en ons stories is die moeite werd vanweë Christus

En ek dink die begin van daardie storie, is die storie van Jesus by die put in gesprek met die Samaritaanse vrou wat ons vroeër gelees het. En die storie word voortgesit met Filippus in Samaria en hier by die Etiopiër en verder aan met Petrus en Kornelius en Paulus in Asië en Europa, waarop ons die res van die week gaan konsentreer.

Ons moet grense oorsteek - want dit is hoe die evangelie werk!

Ek dink die Here gee vir ons met hierdie tekste ‘n model wat wys hoe ‘n mens ander moet lief hê oor grense heen, grense van godsdiens, en etnisiteit en sosiale en politieke affiliasie.  Jesus wys hier vir ons hoe om verhoudinge te bou wat wederkerig is en daag ons uit om ‘n diep verrykende verandering in ons gemeenskappe te begin.

Te veel keer preek ons die vertikale waarheid van die kruis, dat ons met God versoen is deur Jesus Christus.  En dit is waar - maar dit is net een deel van die waarheid.  Daar is ‘n horisontale werklikheid wat ook aangespreek moet word, die mure wat ons verdeel, is afgebreek en ons is nou een bloed-verwante familie in Christus ... en om enigiets minder as dit te preek, is ‘n een-dimensionele boodskap.  Soos Salter sê: "(it) is not the cross but a "stick" that we can use to hit people over the head." (2008:21)

Wat beteken dit vir ons?

  • Ons moet doelbewus uitreik na mense wat anders as ons is om die eenheid in Christus te beleef en te vier.
  • Ons moet wederkerigheid en interafhanklikheid ontwikkel - Jesus vra vir water, en later die vrou ook!
  • Ons moet ons gemaksones verlaat - d.w.s. ons moet ons Etiopiër vind! Ons praat baie van ons getuienis wat gehoor moet word in Jerusalem en Judea en tot aan die uiterste van die aarde, maar minder oor ons getuienis wat gehoor moet word in Samaria, dié plekke wat vir ons ongemaklik is, waar ons grense van andersheid moet oorsteek. Dit is dié plekke ná aan ons, maar wat ons uit ons gemaksone uitneem. Dit is Afrika.
  • Dit beteken dat ons mag moet prysgee en ander se behoefte moet omhels. En ons moet dit nie net doen, omdat dit "nice" is nie, maar omdat dit noodsaaklik is. Die evangelie is net evangelie as dit bereid is om oor grense te gaan.
  • Uiteraard bly só ‘n grens oorsteek storie ‘n risiko - dit was ook vir Jesus ‘n risiko, sy reputasie was op die spel in gesprek met die Samaritaanse vrou en hier vir Filippus met ‘n Etiopiese ontmande. Maar die uitkoms was die risiko werd, ‘n vrou wat haar waardigheid terug gekry het, wat God gevind het, ‘n getuie in haar omgewing geword het en versoening tussen haar Samaritaanse dorpie en die Joodse geselskap van Jesus gebring het. En die Etiopiër se getuienis het ‘n omkeer in die Ethiopië gebring, wat tot vandag toe nog vrug dra.

Uitdagings in Afrika

Ons is vasgevang in ‘n onontwykbare netwerk van gemeenskaplikheid, verbind in ‘n enkele kleed van bestemming (Martin Luther King Jr.: "We are all caught in an inescapable network of mutuality, tied into a single garment of destiny.  Whatever affects one directly, affects all indirectly).  Wat ook al vir jou affekteer, affekteer vir my, en andersom.

Ons sal daarom moet leer om die verhouding wat mense in Afrika met die onsigbare wêreld van die geeste het, te hanteer.

Die drie groot vrese in Afrika is volgens 'n nuwe boek Mission in an African Way die vrese vir voorouers, vir heksery en toordery en vir onreinheid (bv. die dood, aborsie, miskrame, geboorte van tweelinge, 'n lang reis).

Tradisioneel het ons ons wenkbroue daaroor gelig en dit as bygeloof, en nog erger, as onbeskaafd beskou en iets wat hulle net moet los.  Ek dink baie van ons dink steeds, hulle moet net bykom!

Maar ons sal moet besef dat dit vir Afrikane net so 'n werklike manier is om na die wêreld te kyk, as wat ons eie meer wetenskaplike wêreldbeeld vir ons is. En hulle moet met respek en sensitiwiteit hanteer word.

Hierdie idees is een van die maniere waarop Afrika sin maak uit goed wat gebeur waarvoor hulle nie 'n verklaring het nie; dinge soos toevallige gebeure, veral die voortydige dood van kinders, en onverklaarbare voorspoed of teenspoed.

En deur Afrika bloot te stel aan die evangelie, sonder om hierdie vrese ook aan te spreek, laat mense in 'n vakuum.

Voorvaders

Nou ek dink ons besef nie hoe baie die voorvader ding ooreenkom met die rol wat tradisie in ons eie geskiedenis speel nie.  Die groot manne en vroue in ons eie verlede is ook maar soos voorvaders.  Want, en dit is belangrik, die voorvaders word nie soseer aanbid nie, maar geëer en vir wysheid gevra, wat baie keer deur drome gebeur.  Daar moet in harmonie met hulle gelewe word, want dit beteken dat die waardes wat vir hulle gegeld het, ook vir jou en jou familie sal geld.

En as 'n mens die Bybel uit die hoek van 'n Afrika-verstaan lees, toon die aanhalings van die OT en selfs Jesus oor Abraham, Isak en Jakob asof hulle lewendes is, nogal verrassende ooreenkomste met die rol wat voorvaders speel in Afrika.  Julle moet leef soos julle vaders geleef het - of op ander plekke: julle moenie leef soos sekere van julle voorvaders geleef het nie.

En die berg van verheerliking?  Jesus in gesprek met Moses en Elia, lank reeds oorlede, in die teenwoordigheid van 3 dissipels?  Afrika mense noem hulle die "living dead".  Moeilik om te sê, daar is nie so iets soos voorvaders nie, as jy só na die Bybel kyk!

Een voorstel van Yusufu Turake, in die nuwe Africa Bible Commentary (geskryf deur 70 Afrika teoloë, 2006:480), is om Jesus as die vervulling van die voorvader kultus te verkondig.  Hy is nou die een na wie toe ons gaan met ons probleme en wat met ons kommunikeer.  En die boek Hebreërs is 'n goeie boek om as agtergrond daarvoor te gebruik.  Of, 'n bietjie spitsvondig, na God se stem op die berg van verheerliking te verwys, wat met die verdwyning van Elia en Moses, gesê het, "Luister na Hom!"

Ek dink ons sal moet erken, Afrika se mense het nie net 'n hoë premie wat hulle plaas op verhoudings onderling nie, maar ook 'n hoë premie op verhoudings met die geestelike wêreld.  John Mbiti sê daaroor:

"Whatever science may do to prove the existence or non-existence of the spirits, one thing is undeniable, namely, that for African peoples the spirits are a reality which must be reckoned with, whether it is a clear, blurred or confused reality. " (Mission in an African Way, 2007:20)

En dit moet ons respekteer.

Heksery

Nou voorvaders is nog een ding, en die hele storie van onreinheid kan 'n mens nog met geduldige blootstelling aan bv. 'n meer wetenskaplike verstaan van wat met aborsie en miskrame gebeur, hanteer.

Maar wat doen 'n mens bv. met iemand wat kom vra om ge-ont-heks te word?

Dit is 'n algemene ding in 'n Afrika-kultuur.

Ek lees die storie van 'n sendeling in Zambië wat gevra is om Elizabeth Mulenga in Lusaka te ont-heks (Mission in an African Way: 17).

Elizabeth was getroud met John, en moes toe van die platteland na die stad toe trek.  Maar sy kon nie aanpas by die stadslewe nie en het verskeie kere gevra dat hulle eerder na die platteland moes verhuis.

John het geweier want daar was beter geleenthede vir bevordering in die stad.  Toe sy dit nie langer kon uithou nie, het sy gevlug na haar familie in die platteland en daar haar frustrasie uitgespel met die woorde: "Ek wens ek kan skei."

Drie dae later is John in 'n motorongeluk dood in Lusaka.  Toe Elizabeth die nuus kry het sy 'n kreet geuiter en flou neergeval.  Sy het geweet sy het 'n heks geword en haar man doodgemaak.

Die hele gemeenskap het hierdie geloof gedeel.  Maar omdat daar nie vantevore hekse in Elizabeth se familie was nie, het hulle geglo, het sy nie die heksery geërf nie, en kon dus genees word.  Sy was 'n "toevallige" heks.

So - die sendeling word gevra om haar te ont-heks.  Die probleem was, hy wou vir haar bid, en was seker die Here sou haar van die effek van die bygeloof genees.  Maar sy denominasie het dit nie goedgekeur nie, en die familie is na 'n ander kerk waar sy ge-ont-heks kon word.

Wat dink jy moes hy gedoen het?  En wat sou jyself gedoen het?

Die Afrika Geïnisieerde kerke het geen probleem daarmee nie.  Nie net omdat hulle dié dinge self glo nie, maar omdat hulle weet dat as hulle bid en vra vir genesing, die vrou die ervaring sal hê dat sy genees is.

Hulle houding is hieroor as volg.

  • Daar is sekere goed in Afrika wat smaak aan die lewe gee, dinge soos musiek, dans en verhoudingsbou,
  • daar is ander goed wat goed is en bewaar moet word, ubuntu bv.,
  • en dan is daar ander goed wat genees moet word, omdat dit siek is.

Maar jy genees nie iets, deur eers vir die persoon op 'n kursus te sit, hoe ek van my idiotiese idee van heksery ontslae kan raak nie! Jy doen dit deur te bid, en te bid vir genesing van die werklikheid van heksery, en die Here vertrou dat die waarheid mettertyd volledig sal vrymaak van alle vrese.

Een van die maniere waarop hierdie kerke dit doen, is deur 'n nuwe "extended family" te verskaf vir mense wat hulle tradisionele huise verlaat het en hulle op die manier help om 'n soort "split identity" te voorkom. En waarin nuwe Christelike kennis en houdings, vaardighede en gewoontes aangeleer kan word wat op die lang termyn 'n nuwe wêreldbeeld tot gevolg kan hê.

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Môreaand se Pinksterdiens

Petrus steek grense oor deur ander kulture in te sluit - Handelinge 10

  • Ons leer by Petrus hoe die Gees hom 'n kultuur grens laat oorsteek na die Italiaanse soldaat, Kornelius (Handelinge 10 ) - en ons dink na oor hoe ons in gasvryheid die grense na ons eie omgewing kan oorsteek.
  • Die vraag: wie is in en wie is uit, word hier beantwoord.