Markus 5:1-20 (Matt 8:28-34; Luk 8:26-39); 7:31-37 (Matt 15:29-31)

Om hierdie gedeelte beter te verstaan help dit om die voorafgaande gebeure van die vinnig bewegende evangelie van Markus in gedagte te hou.

1.  In die eerste hoofdeel van die evangelie word die begin van Jesus se publieke bediening vertel: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.  Jesus fokus egter slegs op Jode in hierdie deel van sy bediening.

In die tweede hoofdeel van die evangelie, Markus 3:7-8:21, word gefokus op die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie groepe: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.  En hoewel dit aanvanklik ook slegs Jode is wat baat vind by sy bediening, brei dit uit om Grieke en ander groepe in te sluit, die besetene van Gerasa en die vrou van Siro-Fenicië.

2.  Dit vorm verder deel van ‘n ander interessante kontras wat getref word tussen die groep buitestaanders en dié groep wat ‘n binnekring rondom Jesus begin vorm. Die buitestaanders word gou geïdentifiseer as die lede van die Joodse Raad en die Herodiane.  Selfs sy familie word aanvanklik as buitestaanders geteken.  Let op hoe sy familie gedink het Hy is van sy kop af (3:21).  Dit is eers later dat van sy broers, spesifiek sy broer Jakobus, deel van die binnekring geraak het en selfs ‘n leier in die kerk van Jerusalem geword het.

"Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship.  The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him." (Guelich).

Let ook op hoe Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen.  Die band wat die nuwe familiekring saamvoeg, is die doen van die wil van God. Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus se persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar.

3.  Hierdie lyn van gedagte word verder gevoer in die bekende gelykenis van die Saaier, of soos geleerdes dit al hoe meer identifiseer as die gelykenis van die Saad.

Let op hoe daar in die gelykenis twee groepe saad is wat gebruik word: die een groep val op grond wat onvrugbaar is en "die ander saad" val op vrugbare grond.  Die eerste groep saad (telkens enkelvoud) groei nie vanweë drie tipes grond wat groei belemmer. Dit word gekontrasteer met die tweede groep saad (meervoud) wat uitstekend groei en drie tipe oeste lewer: party lewer 30-, ander 60- en nog ander 100-voudig. Dit beteken dat die klem in die gedeelte op die saad self is.

Hierdie twee groepe kan dus geïdentifiseer word as dié wat buite bly, en dié wat binne kom, alles op grond van die aanvaarding van die woorde van Jesus.  Soos Jesus self sê: "Wie ore het en kan hoor, moet luister!"

4.  Wanneer hierdie tweede van ‘n reeks van vier wonderverhale van Jesus dus vertel word (die stilmaak van die storm, die genesing van die besetene, die genesing van die vrou, en die genesing van Jaïrus se dogtertjie) is die vraag na wie is binne en wie buite, wie reageer op Jesus se woorde en wie nie, voorop in ‘n mens se gedagte.  En nog dieper, is die evangelie bedoel net vir Jode of is dit bedoel vir almal?  Is dit net Jode wat deel van die binnekring kan word, of sluit die evangelie enigiemand in die binnekring in, wat in geloof op Jesus reageer?

Die verhaal van die besetene van Gedara wys onomwonde dat dit nie net Jode is wat in die binnekring ingesluit word nie.  Waar Jesus tot hiertoe net gekonsentreer het op die Jode van Galilea, steek Hy hier ‘n grens oor na die Grieke van die Dekapolis.  Die Dekapolis (Griekse woord wat tien stede beteken) was 10 Griekse stede in die Suide, aan die oorkant van die See van Galilea, wat ‘n alliansie gevorm het.

5.  Die dorpie Gerasa was so 50 km suid van die See van Galilea.  Dit was een van die 10 Griekse stede van Dekapolis.  Sommige manuskripte plaas die verhaal in Gergesa, ‘n dorpie aan die see, en in die gebied van die Dekapolis stede.  Dit maak meer sin, omdat die verhaal eksplisiet sê dat die duiwels in die see invaar.  Geleerdes oordeel egter dat Gergesa eerder ‘n wysiging aan die teks is deur latere skrywers (Origines).

Matteus plaas weer die verhaal in Gadara wat nader aan die see was (10 km), maar steeds te ver is vir die nuus om so vinnig daarheen te versprei, of  vir die varke om in die see te vaar, maar tog deur sommige as meer histories korrek geag word (Hagner).  Moontlik moet ‘n mens Markus se mededeling so verstaan, dat dit die varke van boere (vgl. plase in vers 14) van Gadara was, wat naby die see gewei het.  Dit  bly egter ‘n tergende probleem.

Die belangrike punt is egter, die verhaal wys hoe Jesus se werk uitbrei na die Griekse wêreld toe en ‘n groot impak het daar.  Grieke kan ook deel van die binnekring, van die geloofsfamilie van Jesus word.

6.  Die man se naam, Legio,  verwys waarskynlik na ‘n Romeinse legioen, wat uit tussen 4000 - 6000 soldate bestaan het.  Die grafte van destyds was baie keer in spelonke en grotte wat verklaar hoe die man daar kon bly.

7.  Die verhaal demonstreer ook Jesus se krag oor die Bose.  Dit is net so groot soos sy krag om die wind en weer te beheer, soos Hy in die vorige verhaal van die storm op die see gewys het.  En dit bring bevryding vir mense wat onder die juk van die Bose krepeer.  En dat hierdie verhaal in ‘n heidense gebied afspeel, dra die boodskap dat Jesus se bediening uiteindelik sal uitkring en die hele wêreld sal impakteer.

8.  Die feit dat die bose (onrein) geeste deur die varke in die see vaar, het waarskynlik te make met die feit dat die see as die plek van die bose geteken is (vgl Jesaja 27:1; Eseg 28:2; Open 13). Varke was natuurlik onrein diere vir die Jode (Lev 11:7) wat waarskynlik verklaar hoekom Jesus die "onrein" geeste toelaat om in die varke te vaar.

9.  Interessant is dat Jesus hierdie motief - onreinheid - later verder sou aanspreek in sy gesprekke met die Fariseërs (vgl hfst 7 vv).

10.  Dat Jesus die man vra om agter te bly in die streek van Dekapolis en te getuig van wat Jesus vir Hom beteken het, het ‘n groot effek op die omgewing. Wanneer Jesus weer in die streek van Dekapolis kom (Mark 7:31 vv) is daar ‘n ontvanklikheid vir Jesus se bediening, anders as hier waar die Geraseners Hom wegstuur, en Hy genees dan ‘n dowe man.  Die reaksie van die mense in Markus 7 is oorweldigend: "Alles wat Hy doen, is goed"!  Die reaksie toe kan daarom waarskynlik ten minste ten dele aan hierdie getuienis van die geneesde besetene van Gerasa gewyt word.  Matteus meld ook in 4:25 dat groot menigtes uit Dekapolis vir Jesus gevolg het, wat moontlik met hierdie getuienis verbind kan word.

11.  ‘n Mens sien hier iets van die genuanseerdheid van Jesus se opdragte. Vir sommiges (die dissipels) vra hy om huis en familie te verlaat en saam met Hom te gaan, terwyl Jesus hierdie man, wat wil doen wat die dissipels gedoen het, aansê om by sy huis en sy mense te bly en vir hulle te vertel.

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Deel met mekaar in kort.