Markus 6:1-6 (Matt 13:53-58; 9:35; Luk 4:16-30)

Positiewe publieke impak

Jesus se bediening het ‘n uitgebreide positiewe publieke impak gehad, soveel so dat Hy die verwonderde skares van tyd tot tyd moes ontvlug, sodat hulle Hom nie opeis vir hulleself nie.  Die hele landstreek Galilea het oor Hom gepraat (Mark 1:28) en baie mense het Hom gevolg sodat Hy soms in die oop veld gebly het (Mark 1:45).

Die toestroming het van alle kante af gekom, van Judea af, Jerusalem, Idumea en van oorkant die Jordaan, selfs van Tirus en Sidon af in die noorde (Mark 3:7-8).  Sy wonderwerke en deernis met mense het hulle soos ‘n magneet aangetrek "toe hulle hoor wat Hy alles doen".  Melaatses is genees (1:40-45), verlamdes kon weer loop (1:1-12), godsdienstige gebruike het nuwe betekenis gekry (2:18-28), ‘n storm is stilgemaak (4:35-41), besetenes is bevry (5:1-20), selfs ‘n dogtertjie is opgewek (5:41).

Jesus in Nasaret

En dan kom Jesus in sy tuisdorp, Nasaret, die plek waar Hy groot geword het.  Dit was natuurlik Josef en Maria se tuisdorp (Luk 2:4), waarheen hulle terug gekeer het uit Egipte (Matt 2:23) na die dood van Herodes.  Toe hy egter hoor dat sy seun Argelaos in sy plek oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan en is hy na die landstreek Galilea toe, nadat God hom in 'n droom 'n aanwysing gegee het. Daar aangekom, het hy gaan woon in 'n dorp met die naam Nasaret.

Interessant dat Markus die dorpie nie by sy naam Nasaret noem nie.  Hy noem dit net die "plek waar Hy groot geword het".  ‘n Mens wonder of Markus (en Matteus) daarmee amper die skande van die dorp wou wegsteek, al het almal geweet waar Jesus groot geword het, soos Lukas dit wel vir historiese korrektheid aandui.

Van verbasing tot vyandigheid

Met die sabbatdag begin Jesus die mense in die sinagoge leer.  Hy maak gebruik van die reg van elke manlike Israeliet om uit die profete of geskrifte voor te lees.  Hy gaan waarskynlik op die klein platform in die voorkant van die sinagoge sit wat bedoel was vir leraars wat die gelese Skrifdeelte wil verklaar of die volk wil toespreek. Dit het natuurlik ‘n groot verwagting by die aanwesiges opgewek - wat sal hulle hoor van hierdie man wat onder hulle grootgeword het?

En aanvanklik is almal deur sy woorde aangegryp en wil ‘n mens verwag dat dieselfde verwondering as in Kapernaum en by die see van Galilea Sy optrede sal begelei.

Maar dan begin die mense terugdink aan wat hulle van Hom weet uit sy kinderdae, dat Hy mos die seun van die timmerman is, die seun van Maria. En sy broers en susters is nog almal daar.  En onthou heel moontlik dat dié familie van Jesus net ‘n tydjie tevore in Kapernaum nog gedink het dat Hy van sy kop af is, deur nie eers tyd te maak vir eet nie.  Deur hierdie herinnering en gevolglike bevraagtekening van sy afkoms, kan hulle die impak van die boodskap wat Hy bring omseil en verwerp.

Daarom kom die ontstellende woorde van Markus: "Hulle wou niks van Hom weet nie" (6:3).  Hoe anders as die blinde Bartimeus van Jerigo waarvan ons in Markus 10:47 lees: "Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: "Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog!"

Maar hier, na al die positiewe publieke verhale oor Hom, na al die wonderverhale van omgee en Goddelike ingrype, ja, selfs na sy besondere lering die dag in die sinagoge uit Jesaja 61, soos Lukas vir ons vertel, wil hulle niks van Hom weet nie.

Jesus se eie waarneming oor die verwerping was tweërlei:

  1. ‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin (6:4)
  2. Hulle ongeloof het sy wonderwerking beperk sodat Hy net ‘n paar siekes gesond gemaak het (6:5-6).  En soos Markus sê, Jesus was verbaas daaroor.

Die probleem van familiariteit

Die Engelse spreekwoord lui nie verniet nie: Familiarity breeds contempt.  ‘n Mens sou verwag dat as mense meer en meer uitvind oor jou, en jou beter en beter leer ken, dat jou goeie kwaliteite meer en meer sou uitstaan.  Maar die teendeel is baie keer waar.  Hoe beter mense jou leer ken, hoe meer staan jou foute en tekortkominge uit.  Of as mense nie met jouself kan fout vind nie, dan kry hulle ander dinge in jou verlede of jou afkoms om mee fout te vind.

Eerder as om die manier van mense te probeer aanvat of verander, erken Jesus dit doodgewoon as die realiteit, sonder om daarmee die oordeel van die mense goed te keur.  Die punt wat Hy verder daarmee maak, is natuurlik dat Hy dan inderdaad ‘n profeet is, ‘n punt wat die mense verder die harnas vir Hom ingejaag het.

Maar dan druk Hy die vinger op die dieperliggende probleem in Nasaret, ongeloof.  Jesus was verbaas oor hulle ongeloof.

Die belang van geloof

Markus help ons hiermee verstaan hoe belangrik geloofsvertroue is. Waar Jesus net tevore die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en vir Jaïrus met sy 12jarige dogtertjie kon help, en hulle geloof ‘n duidelike rol daarin gespeel het, kan Jesus hier min uitrig, weens die gebrek aan geloof van sy tuisdorp se mense.  Die vrou is genees net op grond van haar aanraking van Jesus se klere.  Hier wil hulle Hom stenig, soos Lukas vir ons vertel.  Die feit dat Hy aan hulle bekend was as kind beteken dat hulle Hom etiketteer en ignoreer, tot hulle ewige skade.  Selfs sy familiekring en gesin wou nie op dié stadium in Hom glo nie, soos al duidelik geblyk het in Kapernaum (3:21).

Die bediening gaan aan

Maar wat ‘n mens moet raaksien in Jesus se reaksie, dieper as sy verbasing oor hulle ongeloof en sy verklarende interpretasie dat dit deel van die profetiese lot is om in jou eie gebied verwerp te word, is dat Hy Hom nie daaroor verknies nie, die stof - by wyse van spreke - van sy voete afskud, en in die dorpies in die omtrek begin rondgaan het en die mense daar geleer het.

Dit is ook op hierdie punt wat Jesus die twaalf wat Hy uitgekies het 2-2 begin uitstuur het om nie net vir hulle in te trek en indiens opleiding te gee nie, maar ook die groterwordende eis van die bediening die hoof te bied.

Die bediening knars dus nie tot stilstand as gevolg van ‘n gebrek aan geloof en ‘n gevolglike verwerping van Jesus nie.

Op ‘n manier is die verwerping in Nasaret soos ‘n kleedrepetisie vir Jesus se laaste week se verwerping in Jerusalem (Sanders) waar nie net Petrus hierdie "man van Nasaret" verloën nie (Mark 14:67), maar Hy as "Jesus van Nasaret" gekruisig word (Joh 19:19).

Petrus sou later met baie trots sy lewe gee vir hierdie man van Nasaret, soos hy in sy Pinkstertoespraak (Hand 2:22) en vir die verlamde man voor die tempel (3:6 - "Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!") en voor die Joodse Raad (4:8) en selfs later voor Kornelius (10:38) sou bely.  Ook Paulus praat só oor Jesus.  Hand 22:8 ‘Wie is U, Here?' het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,' het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.'

Maar dit is belangrik om te verstaan, hierdie verwerping diskrediteer nie Jesus se bediening nie.  Nasaret se ongeloof en Jerusalem se kruisiging raak inteendeel die toppunt van God se genadewerk, inderdaad die redding van die wêreld.  Want in hulle totale verwerping van Hom, bring Hy die offer, waarna Hy ‘n verlossingsaanbod aan hulle, en trouens aan die hele wêreld kan maak.  ‘n Aanbod wat ontvang kan word deur geloof.

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Deel met mekaar in kort.