Markus 1:21-28; 40-45; 2:1-12; 23-27; 3:1-6; 31-35; 7:1-13; 14-23

Markus begin sy evangelie op dramatiese manier.  Jesus word gedoop, versoek en begin preek: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie." (1:15).

Die basis vir sy bediening in die eerste deel van die evangelie is Kapernaum.  Dit is Jesus se tuisdorp, na Hy vroeër van Nasaret hierheen verhuis het.  Kapernaum, 'n groot en besige stad aan die See van Galilea, word die sentrum vanwaar Jesus opereer (2:1; 3:20; Matt 4:13).

Drie groepe mense

Van die begin af is daar drie groepe mense rondom Jesus:

1.       die skare,

2.       die dissipels en

3.       die skrifgeleerdes en Fariseërs.

Aanvaarding en verwerping

En soos daar ‘n stygende lyn van aanvaarding en bewondering onder die skare is, só is daar van die begin af ‘n stygende lyn van ontsteltenis en verwerping onder die skrifgeleerdes.  Die skeidslyne word skerp getrek tussen dié wat binne is en dié wat buite is, soveel só dat ‘n mens soms wonder of die dissipels regtig in die binnekring is, weens hulle onbegrip.  Jesus moet telkens vir hulle alleen eenkant toe neem om te verduidelik wat Hy doen en wat dit beteken.

En die spilpunt waarom die reaksies draai, is die impak wat die bediening van Jesus op hulle het.

  • Vir die skare is Hy die Wonderwerker, die een wat nuwe lewensmoontlikhede oopmaak.
  • Vir die Fariseërs is Hy ‘n steen des aanstoots, wat nie net hulle wette en manier van doen omvêrwerp nie maar veral hulle beheer oor die godsdienstige lewe van die mense in gevaar stel.
  • Vir die dissipels is Hy ‘n enigma, Een wat wel vir hulle uitgekies het, wat sy lewe met hulle op ‘n manier deel wat nie vir die ander beskore is nie, maar wat met sy manier van doen hulle begrip só uitdaag, dat hulle worstel om by te kom.

Stap saam met Jesus deur die uitdagings van Kapernaum

In agt tonele vertel Markus ons hoe Jesus in Kapernaum bevryding en genesing vir besetenes en siekes bring, terwyl tegelykertyd die teenstand toeneem teen Hom.  Ons gaan oorsigtelik kyk na die wyse waarop Jesus die uitdaging van die teenstand hanteer het, terwyl Hy steeds voortgegaan het om sy bediening uit te voer.

1.  In die eerste toneel bevry Jesus ‘n besetene in die sinagoge (1:21-28), maak Petrus se skoonma gesond (1:29-31) en maak die aand baie siekes met allerhande kwale gesond (1:32-34).  Omdat dit ‘n sabbatdag was, wag die mense tot die aand voor hulle die siekes na Jesus bring, waarskynlik uit vrees vir die oordeel van die Fariseërs.  Die uitdaging was nog geleë in die mense se vrese eerder as in direkte teenstand.

2.  In ‘n tweede toneel genees Jesus ‘n verlamde man wat egter onmiddellik tot weerstand van die skrifgeleerdes lei (2:1-12).  Dit is hartseer dat hierdie Godsbewys - dit is net God wat sonde kan vergewe, en Jesus bewys dat Hy dit inderdaad kan doen deur die man te genees - die skrifgeleerdes nie tot geloof beweeg nie, soos ook die geval was met die vooraf genesing van die melaatse - net twee mense is in die OT van melaatsheid genees, Miriam en Naäman, 'n duidelike bewys van God se teenwoordigheid.  Tog praat Jesus steeds in taal wat hulle sou kon verstaan - as hulle die moeite wou doen - deur na Homself te verwys as die "Seun van die mens" (vgl Dan 7:13 waar Hy wat ewig lewe die koninkryk aan die seun van die mens oorhandig om oor alles te regeer - Jesus doen dit 14 keer in Markus, bv. Mark 2:10,28; 14:41,62).

3.  In ‘n derde toneel eet Jesus saam met sy pasverkose dissipel Levi en word Hy uitgekryt dat Hy met sondaars en tollenaars eet (2:13-17).  Jesus reageer daarop deur die hart van sy bediening uit te spel: "Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars."  Daarmee ontbloot Hy die onbarmhartige gesindheid van die Fariseërs en stel 'n beginsel vas vir sy navolgers, dat om die evangelie te bring, beteken primêr om dit te bring aan sondaars.  Die grens na hulle moet telkens van God se kant en van die goeie nuus van die evangelie se kant af oorgesteek word.

4.  In ‘n vierde toneel konfronteer die mense Jesus met die feit dat Hy en sy dissipels nie vas soos Johannes die Doper en die Fariseërs se volgelinge nie (2:18-22).  In die OT was daar aanvanklik net met die Groot Versoendag gevas (Lev 16:29) en met siekte en dood (1 Sam 31:13; 2 Sam 1:12).  Na die ballingskap het die vastye begin toeneem (Sag 7:5; 8:19).  Die Fariseërs het dit egter verder aangevul met 'n vasdag twee keer 'n week.  Dat Jesus die dissipels bevry van hierdie benouende voorskrif wek egter weerstand by die Fariseërs.  Jesus se verduideliking dat daar nie in sy teenwoordigheid - die beeld van Jesus as Bruidegom moes die Fariseërs aan die voorspelling van Hos 2:14-23 laat dink het, maar hulle mis dit! - gevas kan word nie, word aangevul met 'n eerste verskuilde aankondiging van sy dood, waar 'n vastyd weer sinvol sou wees (soos Johannes die Doper se vastyd ook sinvol was as voorbereiding vir die Bruidegom).  Jesus steek dus hier die benoude grens van menslike godsdienstige voorskriftelikheid oor, en leer dat daar vryheid in sy teenwoordigheid is.

5.  In ‘n vyfde toneel demonstreer Jesus sy heerskappy oor die sabbatdag deurdat die dissipels eet van die gesaaides tot die ontsteltenis van die Fariseërs (2:23-27).  Die Fariseërs se interpretasie dat are afpluk as oes vertolk kan word (Eks 34:21), was alreeds verkeerd.  Jesus probeer egter met die voorbeeld van Dawid (1 Samuel 21), wat in sy vlug van Saul van die offerbrood by die priesters in Nob geeët het, die Fariseërs leer dat die funksie van die wet in ag geneem moet word in die uitvoering en interpretasie daarvan.  Die wet is ter wille van die mens geskep en nie andersom nie.  En die Here van die sabbat het die reg om te voorsien vir dié wat alles gelos het om Hom te volg.  Daarmee bevestig Hy die vryheid wat ook ten opsigte van die sabbatswet in sy teenwoordigheid bestaan.

6.  In ‘n sesde toneel hou die Fariseërs Jesus dop op ‘n volgende sabbatdag oor wat Hy sal doen met ‘n man met ‘n gebreklike hand (3:1-6).  Toe Jesus die man teen hulle sin in genees, loop dit uit op die ontstellende bondgenootskap tussen die Fariseërs en Herodiane wat ‘n komplot teen Jesus smee om Hom om die lewe te bring.  Hoe ironies dat Jesus voor die genesing van die man met die gebreklike hand op 'n sabbat die vraag vra, mag 'n mens goed doen of kwaad doen, of red of doodmaak op die sabbat ... en die Fariseërs direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen, en te beplan om Hom dood te maak, saam met die Herodiane ... op 'n sabbatdag!  Doodmaak was immers verkeerd volgens die wet ... sewe dae 'n week.

Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het, dat Hy kwaad en bedroef tegelykertyd was!

Die Herodiane was politieke aanhangers van Herodes Antipas, viervors van Galilea, seun van die Herodes waarvan ons lees by Jesus se geboorte.  Gewoonlik was die twee groepe vyande, tot op hierdie dag ...

7.  In ‘n sewende toneel misbruik die Fariseërs Jesus se familie se bekommernis dat Hy nie eet nie, en beskuldig Hom van duiwelbesetenheid (3:20-30) om getuienis teen Hom te begin versamel vir sy uiteindelike verhoor en teregstelling.  Daar is 'n duidelike kontras tussen hulle wat buite staan, sy familie, en dié wat binne rondom Jesus sit, sy navolgers. Markus is duidelik daaroor dat sy familie op hierdie punt gedink het Hy is van sy kop af (3:21).  Dit is eers later dat van sy broers, spesifiek sy broer Jakobus, deel van die binnekring geraak het en selfs ‘n leier in die kerk van Jerusalem geword het.

"Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship.  The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him." (Guelich).

Dit is verder ook interessant om te let daarop dat Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen.  Die band wat die nuwe familiekring saamvoeg, is die doen van die wil van God. Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus se persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar.

8.  In die agste en laaste toneel in Markus (7:1-23) steek Jesus ‘n belangrike grens oor, die grens van onreinheid.  En Hy leer die Fariseërs en skrifgeleerdes dat onreinheid met die hart te make het.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem, heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win, maak beswaar teen party van die dissipels wat hulle kos met ongewaste hande eet, wat in hulle oë onrein is.  Die probleem met dié optrede is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het.  Jesus wys dit egter af as skynheiligheid, met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13, omdat die geestelike leiers in die praktyk eerder vashou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so leer en daarvolgens beoordeel, maar uiteindelik glad nie die Here dien nie.  Hy illustreer dit met die gebruik van korban (dit beteken offergawe), waar jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg).  Gebruike is dus belangriker as God en sy wet.

Jesus praat weer met die menigte, hak aan by die idee dat ongewaste hande jou kan onrein maak en verduidelik met beeldspraak hoe onhoudbaar dié gedagte is.  Markus vertel nie vir ons wat die skare daarvan gedink het nie, maar die dissipels het weereens verdere onderrig nodig om dié beeldspraak te verstaan.  Markus maak egter die gevolgtrekking, wat in ander NT geskrifte nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het.  Die wetsriglyn word dus van ‘n blote uiterlike reëling verdiep na ‘n innerlike riglyn: dit is nie kos wat jou onrein maak nie, maar die gedagtes van jou hart.

Vergelyk die soortgelyke lering wat God vir Petrus gee met die oog op sy getuienis aan Kornelius in Handelinge 10:15.  Jesus is besig om hier sekere beginsels vir die koninkryk neer te lê wat ‘n groot impak sou hê op sy eie bediening (vergelyk die gesprek met die Griekse vrou van Siro-Fenisië net hierna) en die bediening van die kerk aan heidene. Die evangelie is bedoel vir almal, en die hou van oorgelewerde Joodse gebruike sou die ontvangs van die evangelie belemmer het.

Interessant genoeg is die 1ste 6 van die lys van 12 slegte gedagtes in die meervoud en die laaste 6 in die enkelvoud wat ‘n mens nie in die vertaling kan optel nie (onkuishede, diefstalle, moorde, owerspelle, hebsugte, kwaadwillighede).  Let op dat die lysie amper volledig met die tweede tafel van die wet verbind kan word:

  • diefstal - Jy mag nie steel nie (8ste gebod);
  • moord en kwaadwilligheid  - Jy mag nie moord pleeg nie (6de gebod);
  • onkuisheid, owerspel, losbandigheid - Jy mag nie egbreuk pleeg nie (7de gebod);
  • bedrog, kwaadpratery - Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (9de gebod);
  • hebsug, afguns ("evil eye" - Jode het die gesegde nie met ‘n vloek geïdentifiseer nie, maar met afguns) - Jy mag nie begeer nie (10de gebod);
  • Die 5de gebod - eer jou vader en jou moeder - is reeds met die korban-afwysing op die tafel gesit.
  • Hoogmoed, wat volgens sommige die ergste sonde is, en ligsinnigheid ("lack of moral sense", dws morele dwaasheid) oortree eintlik alles in die wet, dit is om jouself en jou gebruike en gedagtes hoër te ag as God se geopenbaarde wil.

Die NT het verskeie sulke lysies: Rom 1:29-31; 1 Kor 5:10-11; 2 Kor 2:20-21; Gal 5:19-21; Kol 3:5-8; 1 Tim 1:9-12; 2 Tim 3:2-5.

Hoe hanteer Jesus hierdie uitdagings?  Wat leer ons by Hom?

1.  'n Mens moet voorbereid daarop wees dat die evangelie altyd weerstand sowel as verwondering sal uitlok. Daar is van die begin af hierdie ongemaklike waarheid van die evangelie van Jesus - dit lok beide reaksies by mense uit.  Daar is mense wat dit omhels.  Daar is ander mense wat dit verpes.  Maar wat ons leer by Jesus, is dat dit Hom nie afsit nie.  Hy kies om hiermee te engage.  Hy daag die konvensies uit, Hy gee redes vir wat Hy doen, Hy probeer aansluit by die begripswêreld van die Fariseërs en skrifgeleerdes om uit hulle eie bronne vir hulle tot insig te probeer lei.

Dat dit uiteindelik in hulle geval tevergeefs was, en Hy hulle sterker begin aanvat, dwarsboom nie sy aanvanklike ernstige poging nie.  Uiteindelik los Hy hulle natuurlik in hulle teenkanting.  In 8:13, as hulle 'n teken vra, sê Markus, het Hy hulle net daar laat staan sonder 'n teken.  En in die laaste week in Jerusalem maak Hy nie net die tempel skoon van hulle wanpraktyke nie (11:15) maar oorrompel hulle met sy intellek in drie strydgesprekke (oor gesag met die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde [11:27-33], oor belasting met die Fariseërs en Herodiane [12:13-17] en uiteraard oor die opstanding met die grootste groep van hulle almal, die Sadduseërs, wat juis dít ontken het [12:18-27]).

2.  Die evangelie deurbreek en relativeer natuurlike verbande en institusies. Jesus leer sy navolgers om godsdienstige en sosiale grense te deurbreek, om nie vasgevang te word deur godsdienstige gebruike, soos vas, sabbatdag, en onreinheid nie. Ook nie deur sosiale groeperinge nie.  Jesus kies navolgers as familie, sondaars en tollenaars as tafelgenote.  Daarmee leer Hy hulle dat niks hulle vryheid om die evangelie te bring  en te wees vir sondaars aan bande mag lê nie.

Dit vorm later heel moontlik een van die grondliggende argumente wat gebruik is in die vergadering in Jerusalem (Hand 15) toe besluit moes word watter riglyne daar vir Christene uit heidennasies sal geld.  En die kerk lê dan die minimum van riglyne voor omdat Joodse gebruike - of enige ander kulturele gebruike -  nie die vryheid van die Christelike kerk in sy diverse uitdrukkings aan bande mag lê nie.

Ander interessante gegewens

Sinagoges

Byna alle dorpies in Israel het sinagoges gehad wat nie net gedien het as plekke van aanbidding nie maar ook as skole.  Die gebruik dateer uit die tyd van Esra (ongeveer 450 v.C.).  In die week is seuns in die wet en die Joodse godsdiens onderrig (dogters kon dit nie bywoon nie) en op die sabbat is die Woord aan die gemeenskap verkondig.  Omdat elke sinagoge nie hulle eie rabbi gehad het nie, is besoekende rabbis gevra om te preek.  Dit is waarom Jesus en later ook Paulus so geredelik toegang tot die Joodse gemeenskappe gehad het (vgl Hand 13:35).

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Deel met mekaar in kort.