Produkte

Einde 2007.   Weer praat oor eredienstye.  Hoe baie is daar nie al gepraat nie!!  Vorige kere was dit so moeilik – feitlik onmoontlik.  Dis asof mense wat so verskillend is, mekaar nie meer hoor nie.  Wat nog praat van die Here se stem hoor!   Daar is die orrel-mense en die band-mense, die kop-spiritualiteit en die hart-spiritualieit standpunte, die taalpuriste en diegene wat hieroor anders voel.  Daar is die aansienlikes en die minder-aansienlikes, die met ’n wit vel en hulle met geel, bruin en swart velle (met hulle tale). Ja, ’n groot diversiteit.  En elkeen wil die beste vir hulleself hê. Dis asof fokus verloor word dat ons eintlik maar net Christus se mense is. Die visie van die gemeente: “Een in Christus sodat die wêreld kan glo (Joh 17)” voel soms so onbereikbaar.    Gaan dit weer gebeur dat mense mekaar nie vind nie?

Die 40 taakspanlede maak gereed om te debatteer, standpunte te stel en met die beste redenasies na vore te kom. Iemand gaan wen en iemand gaan verloor – is die gesindheid van sommiges. Hoe vreemd was dit nie toe daar nie ’n agenda by die eerste luisterbyeenkoms is nie! Maar die waarde van Luister na die Woord verander debat na dialoog, mag handhaaf na mag prysgee.  En veral as die vraag voortdurend gevra word: Waarmee is God besig? word die span al hoe meer gevorm om nie deur ’n agenda en eie standpunte nie, maar deur die Woord gevorm te word.

Na afloop van die derde luisterbyeenkoms besef die  span dat die Here besig is om ’n eenheid te bou in die span en dat verskeidenheid ondergeskik hieraan raak.  Is dit dalk tog moontlik dat mense mekaar kan vind?

En dan die deurbrake!  Die span bepaal die agenda na aanleiding van dit wat gehoor is in die vorige 3 luistersessies uit Openbaring 5, Handelinge 2 en Filippense 2.  Vreemd tog dat die eerste punt nie “eredienstye” is nie (dis dan waarvoor ons hier is!!).  Die eerste punt is: Wie...wie is God? Wie is ons? Wie is die gemeente?  Wie is mense in die gemeente?  Wie...wie..wie.  Die agenda skuif weg van ’n saak af na ’n diep behoefte aan communitas met mekaar en met God.

Nog wonderwerke...

Voorstelle.  Elkeen bring sy papiervoorstel oor die nuwe eredienstye.  Watter groep kry die beste tyd en die beste lokaal?  Dis immers waaroor die twis in die verlede was.  Almal bring hulle voorstelle.  Dan, wanneer een persoon sy voorstel “surrender” ten gunste van ’n konsensus-besluit, doen almal dit spontaan.  Elkeen plak sy voorstel teen die muur.  Mag is prysgegee!!

Die taakspanlede verdeel in klein groepe om voorstelle te formuleer.  Gaan daar weer twis wees?  Gaan die ou patrone hulle herhaal?  Gaan mense weer uitstorm uit die vergadering?  Die groepe is immers juis so saamgestel dat mense wat verskillend dink en is, in dieselfde groep is.

En dan gebeur dit!!  Die 8 blaaibordvelle word teen die muur geplak.  Kan jy glo...daar is slegs enkele klein verskille oor die tye en inkleding van die eredienste. Daar is toegeneentheid waarbinne debat verander na dialoog en konsensusbesluite verkry word.  God is so goed!!!  Ons het vir ongeveer ses maande na Hom geluister. Daar is kalmte.

En nou vir kerkraadsgoedkeuring!!  Die verhaal van die prosesse wat gevolg is, word met die kerkraad gedeel.  En die kerkraad...keur dit eenparig goed.  Wat ’n wonderwerk!!1 Die kerkraadsvergadering sing spontaan ‘n loflied en bid dankgebede.

Gemeentelede verstaan nie almal die besluite nie. Sommiges voel dat hulle die beste plek en die beste tyd is verloor het.  Hoekom?  Genoeg  rede vir ontevredenheid. Selfs dreigemente.  Die taakspan ontmoet hulle en verduidelik die prosesse aan hulle: hoe God gelei het deur Sy Woord en hoe daar na almal geluister is – selfs na diegene wat ’n ander taal praat as ons, selfs na hulle wat “anders” as ons is. 

God wat sy Woord vir die taakspan oopgemaak het, is getrou.  Die byeenkoms eindig met ’n gemoedelikheid en vrede en mense verstaan dat die visie: Een in Christus...sodat die wereld kan glo” beteken dat ons nie meer op onsself en ons eie behoeftes fokus nie.  Ons is ’n gestuurde gemeente, ’n hospitaal vir die wêreld, ’n dienspunt vir hulle wat buite die kerk en dalk die koninkryk staan.  Dis mag prysgee en konsensusbesluite – nie meerderheidsbesluite nie.

Minder praat en meer luister, minder mag en meer diensbaar, minder debat en meer dialoog, minder...meer...!!!

NS:  Die primatyd en –plek “behoort” is weggegee – aan die kinders, die kategese, die “magteloses,”, hulle aan wie die koninkryk van die hemel behoort.  Dit is iets van ware kerkwees, nee, van ware koninkryk, wat deurgebreek het ... toe ons geluister het.