Produkte

Twee Riviere in die Langkloof was ‘n stoere gemeenskap wat gelowig en getrou in die gebaande weë van hulle voorvaders en voormoeders geloop het. Veral in Olivier-voetspore, want gedurende die 1930’s was net 24 van die 106 huisgesinne hier nie Olivier-nasate nie. Selfs die ander vanne was meestal ou bekendes soos Schreiber’s en Murray’s. Toe ‘n meester lank gelede onwillig raak om die skoolsaal te leen, bou hulle ‘n eie, trotse monument-kerksaal vir vol bidure en boere-basare. Maar, deur die jare het ook Twee Riviere karakter verander. Ou inwoners is gaandeweg en een vir een vervang deur … inkommers. Veral Engelssprekendes toegewy aan ‘n Joods-godsdienstige leefwyse. En soos hulle intrek, hoor jy: “Hulle is nie van onse mense nie” of “Hulle is nie in onse kerk nie” en agter die woorde word stilletjies gewonder: “Is hulle ooit van onse God se mense?”

Asof daar nie genoeg verwikkelinge (agteruitgang?) in die Kloof is nie en asof die resessie nie genoeg druk nie, wurg ‘n knellende droogte ons. Twee Riviere hou biduur vir reën. Die gewone paar mense neem gedweë hulle plekke in die agterbanke in. Die oop voorbanke is stille getuienis van die wat in vergange se dae in die getal was. Maar toe die biduurklok slaan, is daar afwagting in die lug asof vannaand se getal nog nie vol is nie. En daar daag hulle toe in hulle tientalle op. Van kinders tot bejaardes. Wanneer laas moes daar stoele ingedra word? Die vreemdes het saam kom bid. Met die oorwig moes selfs dominee noodgedwonge aanpas en later verskeie kere op die plaaslike sê-ding antwoord: “Het dominee se tande stomp geraak van al die Engels praat?”

Na die oordenking uit Psalm 29 draai ons in groepies en kyk mekaar vir die eerste keer op hierdie manier vas in die oë. Ons sien talle verskille. Vreemde name en vanne; mans wat met biddende hande hemelwaarts reik; kinders in vurige gebed; ‘n vrou wat haar hoof met ‘n tulband bedek; ‘n appelboer en ‘n appelplukker wat saam buig. Met geslote oë voel ons ‘n verfrissende en opwindende en verrykende nuwe eenheid. Die Gees van God is self hier teenwoordig. Emmanuel …. God met ons en ons met God.

Na “O Heer my God” en die laaste amen word jare lange mede-Twee-Riviere-bewoners plegtig aan mekaar voorgetel. Tussen lewendige geselsies deur word ons langsamerhand bewus van dié waarheid ….. dit is hoe Twee Riviere se mense nou lyk. Daar is wins in die verlies. Ons het weer vol geword. Ons is saam onse God se mense wat in diepe afhanklikheid smag na reën. Ons groet met die wete dat dit nie die laaste keer nie. Die dankdiens na reën gaan in hierdie saaltjie gehou word en agterna gaan ons soet en sout geniet met Engelse en heuningbostee …….

Geskryf deur Barnard Steyn

Ns - Dít is die tipe verhale van grensoorskreiding wat die Seisoen van Luister graag wil hoor - vertel nog meer sulke verhale vir ons!  Webmeester

Kommentaar 

 
# DsDs A Kritzinger 2012-04-08 06:37
Loof die Here. Ek sal graag wil hoor hoe dit vandag (drie jaar later) gaan.