Kerkjaar 2016-17

File Version Licence Size Added Hits

Matteus 4:1-11 - Eerste Sondag in Lydenstyd - 5 Maart 2017

Matteus4 1-11bCarolyn Brown gee ‘n klomp uitstekende idees hoe om hierdie teks saam met kinders te ontsluit. Julle kan drie lesers gebruik en die teks dramaties lees. Julle kan die skakel volg na ‘n kunstenaar se interpretasie van die teks wat ‘n mens ‘n dieper insig oor die verloop van die tyd wat Jesus in die woestyn was. Jy kan ook die verhaal van The Little Mermaid of Pinocchio gebruik. Die preekriglyn begin met die wyse waarop Sylvester Stallone die vermaaklikheidswêreld in 2006 verras het deur met sy bemarking van die laaste Rocky Balboa fliek uitgewy het oor sy geloof in Jesus Christus. Hy vertel hoe hy geleer het hy kan Jesus Christus meer vertrou as wat hy homself kan vertrou. "Mens het die ekspertise en die leiding van iemand anders nodig. Mens kan jouself nie afrig nie. Dis presies hoe ek oor Jesus, die Christelike geloof en die kerk voel. Jesus is die afrigter, en die kerk is die gimnasium vir die Christelike lewe." Dit gee ‘n goeie inleiding om oor Matteus se hantering van Jesus se versoeking in die woestyn te gesels. Die Gees lei Hom die woestyn in waar die vraag geantwoord word wie Jesus sou vertrou. God of Homself. Sy oorwinning gee ons die moed om self onder sy leiding ons eie woestyn ervarings te trotseer in die verwagting dat Hy ons ook die oorwinning sal laat behaal.

Matteus 4:1-11.ppt 1.6 MB Feb 26, 2017 20:54 Download 551
Matteus 4:1-11.pptx 1.15 MB Feb 26, 2017 20:52 Download 507
Matteus 4:1-11.doc 274.5 KB Feb 26, 2017 20:51 Download 730

2 Petrus 1:16-21 - Sondag van die Verheerliking - 26 Februarie 2017

2Petrus1 16-21Daar is ‘n oulike skit wat jy kan gebruik wat die belang van ooggetuies illustreer. Die preekriglyn begin met die verhaal van Ema Drouillard van San Francisco wat vir mense seremonies uitwerk wat by hulle behoeftes pas. Sy ontwerp selfs doopseremonies waarin die Naam van God nooit genoem word nie. Daarmee voldoen sy aan die aanvraag van mense wat hulle kinders aan 'n wye spektrum van geloof wil blootstel, sonder om vir die inhoud van net een godsdiens te kies. Die Christelike geloof bou egter op die openbaring van God in Jesus Christus van Nasaret, gestuur deur die Vader en bemagtig deur die Heilige Gees, sê Petrus. Ooggetuies het God se werk in Jesus waargeneem en dit neergeskryf. As jy hierteen kies, en die afgewaterde Christianity Lite van feetjies, dwergies, engele en Kersvader kies, speel jou lewe en jou verwagtinge duidelik anders uit. Dit is waaroor 2 Petrus handel. Die brief het ten doel om gelowiges te help om die regte keuses te maak, op grond van die regte feite en data, met die belofte dat dit tot 'n heerlike bestemming sal lei.

2 Petrus 1:16-21.ppt 1.29 MB Feb 19, 2017 15:04 Download 577
2 Petrus 1:16-21.pptx 1.21 MB Feb 19, 2017 15:03 Download 487
2 Petrus 1:16-21.doc 328 KB Feb 19, 2017 15:02 Download 550

1 Korintiërs 3:10-11 - Sewende Sondag ná Epifanie - 19 Februarie 2017

1Korintiers3 10-11Gesels met die kinders oor wie en wat die kerk is. Verduidelik dat die kerkgebou nie die kerk is nie, maar ons is die kerk. Gebruik Flam 104 met bewegings. Video ingesluit. Die preekriglyn werk met vers 10-17 as teks en begin met antieke wêreld se slegte naam vir Korinte weens hulle losbandigheid. Die goeie nuus van die stigting van die gemeente was van korte duur weens die persoonlikheidskultus wat rondom die leiers ontstaan het. Dit het die gemeente in groepe verdeel. Paulus skryf daarom vir die gemeente en herinner hulle daaraan dat God die gemeente van Korinte op Jesus Christus as fondament gebou het. Daarom is die gemeente God se eiendom waarin Hy deur sy Gees woon. Daarom mag 'n bouer net op dieselfde fondament, Jesus Christus die Here, voortbou. Daarom, sê Paulus, is dit so hartseer dat dit nie meer vir Korinte gaan om Jesus nie, maar om die menslike ek. Die resultaat hiervan is groepvorming, wat lei tot onderlinge konflik. Uiteindelik kom God se Naam in gedrang. So verloor die gemeente sy vermoë om 'n verskil in die wêreld te maak.

1 Korintiërs 3:10-11.ppt 980 KB Feb 12, 2017 16:35 Download 618
1 Korintiërs 3:10-11.pptx 940.18 KB Feb 12, 2017 16:33 Download 504
1 Korintiërs 3:10-11.doc 280.5 KB Feb 12, 2017 16:32 Download 724

1 Korintiërs 3:1-9 - Sesde Sondag ná Epifanie - 12 Februarie 2017

1Korintiers3 1-9Met Familietyd kan jy die ingeslote Nuwe Testament vir Kinders weergawe van die fokusteks lees. Daar is ook ’n blokkiesraaisel vir ouers kinders. Daar is ook ’n innoverende hervertel van die verhaal van die wolf en die drie varkies. Die preekriglyn begin met ‘n voorbeeld wat ons help verstaan dat baie volwassenes geestelik en emosioneel sukkel om uit die doeke uit te kom. Paulus praat in ons teks hieroor met die gemeente in Korinte. Hulle is nog in die doeke. Sy maatstaf daarvoor is dat daar jaloesie en twis onder die Korintiërs voorkom en dat hulle in partyskappe verdeel is, sommige vir Paulus en ander vir Apollos. Daarom kan hy nie met hulle oor die diep dinge van God praat nie. Hulle is nog net gereed vir melk. Wanneer leiers nie teen mekaar afgespeel word weens die onvolwassenheid van die gelowiges nie, kan vertroue in en betroubaarheid van die leiers die gelowiges dieper neem op pad na geestelike volwassenheid.

1 Korintiërs 3:1-9.ppt 1.32 MB Feb 05, 2017 14:40 Download 735
1 Korintiërs 3:1-9.pptx 1.21 MB Feb 05, 2017 14:38 Download 574
1 Korintiërs 3:1-9.doc 175.5 KB Feb 05, 2017 14:37 Download 662

1 Korintiërs 2:1-12 - Vyfde Sondag ná Epifanie - 5 Februarie 2017

1Korintiers2 1-12Carolyn Brown sê dat die Korintiërs “wys” wou wees volgens die wêreld se standaarde. Ons – ook kinders – wil graag “wys” of “slim” lyk vir die mense rondom ons. Paulus sê ons moet vergeet daarvan. Ons word eerder herinner dat wat “wys” lyk vir die wêreld, nie is wat “wys” lyk vir God nie. ‘n Lekker storie om te gebruik is die van The Tawny Scrawny Lion, deur Kathryn Jackson. Dit vertel van ’n skynbaar dwase haas wat ’n honger leeu hanteer op ’n manier wat op die ou end baie wys is. Hy kry op die koop toe ook ’n nuwe vriend. Die preekriglyn sluit by Donald Trump se opstaan vir Jesus in Kerstyd aan wat met gemengde gevoelens ontvang kan word. Mens kan immers vir Jesus opstaan op 'n manier wat glad nie pas by Hom nie. Dit was ook so in Paulus en die Korintiërs se tyd. Daarom kies Paulus om nie volgens die wysheid van sy tyd op te tree in Korinte nie, maar met angs en huiwering by die kruisboodskap van Jesus aan te sluit. Slegs daardeur staan sy bediening in die krag van God.

1 Korintiërs 2:1-12.ppt 855.5 KB Jan 18, 2017 11:27 Download 685
1 Korintiërs 2:1-12.pptx 791.87 KB Jan 18, 2017 11:26 Download 558
1 Korintiërs 2:1-12.doc 301.5 KB Jan 18, 2017 11:26 Download 824

Miga 6:1-8 - Vierde Sondag ná Epifanie - 29 Januarie 2017

Miga6 1-8Verduidelik vir die kinders wat ‘n juk is. Lees dan Matt 11:28-30 en vertel vir die kinders dat party mense dink dat God se wil soos ‘n juk is – iets wat swaar op ons druk, ons vasbind en seermaak. Maar God is nie so nie – hy is lief vir ons. Dat sy juk sag is beteken dat dit ‘n vreugde is om die Here te dien- dit is nie swaar en ‘n las nie. Gebruik dan die teks van Miga om daarop uit te brei. Dit preekriglyn lei met die verhaal van Jimmy Carter in, die 39ste president van die VSA, wat sy ampseed op 20 Januarie 1977 afgelê het met 'n Familiebybel wat oopgemaak was by Miga 6:8. Na Richard Nixon se toesmeerdery en leuens oor die Watergate-skandaal was dié keuse nie verniet nie. Amerika was 'n diep-verdeelde land met wantroue in politieke leiers wat hoogty gevier het. Carter het weer teruggekeer na Bybelse waardes en was soos 'n vars briesie op die nasionale politieke toneel. Want Miga verwag van ons om op alle vlakke van die lewe op te tree soos Hy dit wil hê: of ons politici is, soos Jimmy Carter, of onderwysers, medici, prokureurs, boere, sekretaresses of pensioenarisse.

Miga 6:1-8.ppt 1.24 MB Jan 18, 2017 05:51 Download 606
Miga 6:1-8.pptx 1.12 MB Jan 18, 2017 05:46 Download 507
Miga 6:1-8.doc 120 KB Jan 18, 2017 05:45 Download 746

Jesaja 9:1-4 - Derde Sondag ná Epifanie - 22 Januarie 2017

Jesaja9 1-4Met Familietyd kan jy die storie van die Son-brood vertel om die kinders en hulle ouers te laat nadink hoe ons meer soos die lig van God kan wees. Jy kan ook ‘n flits wat nie batterye in het nie gebruik om te illustreer dat ons die Lig van God – die batterye – in ons eie lewe nodig het voor ons ligte kan wees in die wêreld. Jy kan ook gesels oor hoe een lig donker kan verdryf – bv. ’n LED-liggie aan jou sleutelring, of ’n naglig – iets wat kinders goed verstaan! Dan kan jy ’n naglig wys en gesels oor hoe dit kinders help om nie bang te wees nie. Die preekriglyn begin met die tragiese en ontstellende verhaal van Alison Oates wat verlede jaar in haar plaashuis buite Harrismith grusaam aangeval en verkrag is. Toe sy by die polisie en hospitaal aangekom het, het sy egter beleef dat haar nag van hel egter nie verby was nie. Sy is gruwelik verwaarloos en verontagsaam. Nadat sy besluit het om die saak nie net daar te los nie, sê sy: "Ek het goeie en slegte dae, maar ek het nie daardie dag so hard baklei om te bly leef net om nou 'n lewende dooie te wees nie. Dit lei die preekriglyn se besinning oor die vernedering wat alle mense op een of ander manier beleef. Sommige mense word egter aan soveel vernedering, minagting en verontmensliking blootgestel, dit laat jou sidder. Dit is waarna ons teks verwys met die gebiede van Sebulon en Naftali wat verneder is saam met die res van die Noordryk deur die Assiriërs se invalle in die Noordryk in die 8ste eeu. Die hele bevolking van die Noordryk is met iets soos 'n massiewe plaasaanval en plaasverwoesting getref. Die mense van die Noordryk se hele leefwêreld het in duie gestort en baie is deur Assirië in ballingskap weggevoer. Hoewel hulle geen onskuldige lammetjies was nie - vóór die val van die Noordryk leer ons hulle ken as arrogante, godsdienstig sorgelose mense met 'n skyngodsdiens, soos Amos en Hosea dit noem – bly die Here betrokke by sy volk, ten spyte van hulle groot sonde. God belowe om hulle weer op te tel en ‘n wending te bring. In die toekoms sal God hulle in eer herstel. Die volk wat in donkerte geleef het sal 'n groot lig sien en weer groot blydskap beleef. Die blydskap wat beskikbaar sal wees in die Seun wat vir hulle gebore sal word. Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Mat 4:12–17. Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het. En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk. Daarom kan hulle – en ons – leef ons met die vaste vertroue: IN Jesus het ons die lig, al moet die lig nog volkome vir ons almal op hierdie wêreld deurbreek.

Jesaja 9:1-4.ppt 753 KB Jan 17, 2017 06:38 Download 552
Jesaja 9:1-4.pptx 691.54 KB Jan 17, 2017 06:36 Download 421
Jesaja 9:1-4.doc 111 KB Jan 17, 2017 06:36 Download 702

LigDonkerStiltetydboekie-1kleinDie voorgestelde preektekste vir die eerste kwartaal 2017 kom vier keer uit die OT profete: Jesaja en Miga, een keer uit die Psalms, vyf keer uit die evangelies van Matteus en Johannes, en vyf keer uit die briewe in die NT: 1 Korintiërs, 2 Petrus, en Kolossense.  Hier is die lys met die preektekste telkens eerste geplaas.

  1. 8 Januarie 2017: Jesaja 42:1-9; Psalm 29; Handelinge 10:34-43; Matteus 3:13-17
  2. 15 Januarie 2017: Jesaja 49:1-7; Psalm 40:1-11; 1 Korintiërs 1:1-9; Johannes 1:29-42
  3. 22 Januarie 2017: Jesaja 9:1-4; Psalm 27:1, 4-9; 1 Korintiërs 1:10-18; Matteus 4:12-23                
  4. 29 Januarie 2017: Miga 6:1-8; Psalm 15; 1 Korintiërs 1:18-31; Matteus 5:1-12
  5. 5 Februarie 2017: 1 Korintiërs 2:1-12 (13-16); Jesaja 58:1-9a (9b-12); Psalm 112:1-9 (10); Matteus 5:13-20
  6. 12 Februarie 2017: 1 Korintiërs 3:1-9; Deuteronomium 30:15-20; Psalm 119:1-8; Matteus 5:21-37
  7. 19 Februarie 2017: 1 Korintiërs 3:10-11, 16-23; Levitikus 19:1-2, 9-18; Psalm 119:33-40; Matteus 5:38-48
  8. 26 Februarie 2017: 2 Petrus 1:16-21; Eksodus 24:12-18; Psalm 2; Matteus 17:1-9
  9. 5 Maart 2017: Matteus 4:1-11; Genesis 2: 15-17, 3:1-7; Psalm 32; Romeine 5:12-19
  10. 12 Maart 2017: Johannes 3:1-17; Genesis 12:1-4a; Psalm 121; Romeine 4:1-5, 13-17
  11. 19 Maart 2017: Johannes 4:5-42; Eksodus 17:1-7; Psalm 95; Romeine 5:1-11
  12. 26 Maart 2017: Johannes 9:1-41; 1 Samuel 16:1-13; Psalm 23; Efesiërs 5:8-14
  13. 2 April 2017: Johannes 11:1-45; Esegiël 37:1-14; Psalm 130; Romeine 8:6-11
  14. 9 April 2017:  Psalm 31:9-16; Matteus 21:1-11; Jesaja 50: 4-9a; Filippense 2:5-11
  15. 16 April 2017: Kolossense 3:1-4; Handelinge 10:34-43; Psalm 118:1-2, 14-24; Johannes 20:1-18

Chris van Wyk het uit sy Bybelskool.com materiaal 'n stiltetydboek saamgestel wat lidmate kan gebruik om vir die komende Sondag voor te berei aan die hand van al vier tekste wat vir die week aangegee word.

Lidmate kan die luistersiklus gebruik om hierdie tekste deur te werk:

RUS

  • Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.

HOOR

  • Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
  • Lees my bydrae oor die gedeelte.
  • Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.

LEEF

  • Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.

 

STILTETYD aan die hand van die RCL Tekste – EERSTE KWARTAAL 2017 1.51 MB Dec 29, 2016 09:03 Download 2270

Jesaja 49:1-7 - Tweede Sondag ná Epifanie - 15 Januarie 2017

Jesaja49 1-7Vir Familietyd kan jy die gedig in die preekriglyn voorlees en dit koppel aan die ingeslote voorbeeld van die “Astro’s in die pyp”. Daarmee kan Jesaja se roeping om die seën van die Here vir al die volke te bring, geïllustreer word. Hy was net die kanaal waardeur God se krag gevloei het. Die preekriglyn begin met ‘n toneel uit Karin Brynard se roman, Tuisland, waarin 'n bruin vrou, Kytie, op vlug is met 'n kind, wat as Tienrand bekendstaan, in die Kalahari. Hulle pad kruis met 'n man wat in Khoisan tradisionele drag en versiering soos 'n mens-dier lyk wat hulle op allerhande maniere help in gevare. Dit verskaf ‘n goeie inleiding om oor die Dienaar van die Here se werk te gesels aan die hand van Jesaja 49. Sy mond is soos 'n skerp swaard wat soos die chirurg se skalpel kwaad en gevaar wegsny, sodat daar genesing kan kom. Hy is ook soos die pyl van die Here, wat tans nog in die Here se pylkoker is. 'n Pyl is 'n instrument in die hande van 'n boogskutter. Met 'n pyl kan 'n boogskutter oor 'n afstand werk, om te doen wat hy wil doen. So het die mens-dier in Kytie se verhaal hierbo oor 'n afstand die onheil, in die vorm van 'n slang, uitgewis. Die kind, Tienrand, het onwetend in die woestyn tot naby 'n gevaarlike slang geloop. Die boogskutter het haar met sy pyl gered. So gaan die Dienaar van die Here God se instrument wees wat God se werk op aarde gaan doen.

Jesaja 49:1-7.ppt 1.06 MB Dec 29, 2016 08:44 Download 617
Jesaja 49:1-7.pptx 972.04 KB Dec 29, 2016 08:42 Download 567
Jesaja 49:1-7.doc 115.5 KB Dec 29, 2016 08:41 Download 829

Jesaja 42:1-9 - Eerste Sondag ná Epifanie - 8 Januarie 2017

Jesaja42 1-9Gesels oor “sagmoedigheid” – of dalk eerder “sagtheid”. Help kinders om te verstaan dat “sagtheid” en “krag / om sterk te wees” dikwels saamgaan. Om “sag” te wees, is nie gelyk daaraan om “swak” te wees nie. Verduidelik dat dit is hoe Jesus is – sag of sagmoedig. Lig gedeeltes uit die Jesaja-teks uit wat dit beklemtoon – of laat gesinne die teks saam lees en gedeeltes uitlig wat Jesus se sagtheid bevestig. En aangesien kinders versot is op pleisters, kan jy vir elkeen ’n pleister plak om hulle te herinner dat Jesus saggies met hulle werk. Die preekriglyn val direk weg met dié dag, op die oewer van die Jordaanrivier, at 'n groot dag in die lewe van die Triniteit afgespeel het. Dit vorm die inleiding om oor die liedere oor die Dienaar van die Here in Jesaja na te dink. Hy bring die geregtigheid van God in ‘n wêreld wat siek en gebroke is. Hierdie Dienaar is soveel anders as die wêreld. Hy is kalm en rustig, sag en stil. Hy breek niemand verder af nie, Hy manipuleer, dreig en pleeg nie geweld nie. Vir Hom heilig die doel nie die middele nie. Hy leer ons leef op 'n manier wat genees en vry maak. Hy is 'n Koning wat nie oorheers nie, maar dien. Hoe sal ons reageer? "Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het (Ef. 1:6).

Jesaja 42:1-9.ppt 890 KB Dec 12, 2016 08:20 Download 614
Jesaja 42:1-9.pptx 877.55 KB Dec 12, 2016 08:19 Download 651
Jesaja 42:1-9.doc 273 KB Dec 12, 2016 08:18 Download 766

Psalm 72:1-7, 10-14 - Epifaniefees - 1 Januarie 2017

Psalm72 1-7 10-14Vra vir die kinders die volgende vraag: “Wie, dink julle, regeer in ons land?” (Waarskynlik sal die kinders Pres. Jacob Zuma antwoord). Vra dan verdere vrae soos: “Wie sorg dat ons nie te vinnig op die paaie ry nie?” Die antwoorde sal dan waarskynlik wyer as net die regering wees. Kinders moet verstaan dat hierdie gebed bedoel was vir koning Salomo, sodat hy regverdig moes regeer. Dit maak vir hulle die deur oop om ook vir vandag se regeerders en leiers te bid, sodat hulle regverdig sal wees en altyd die belange van die mense wie hulle dien op die hart sal dra. Die preekriglyn begin met die verhaal van World Vision International wat 'n wêreldwye Christelike organisasie is wat hulpverlening, ontwikkeling en bewusmaking ten bate van kinders, vroue, families en gemeenskappe onderneem. Die ontstaan van World Vision het te doen met 'n besoek van dominee Robert Pierce in 1947 aan China. Daar het hy 'n onderwyseres, Tena Hoelkedoer, ontmoet wat hom voorgestel het aan 'n vernielde en verlate kind, White Jade. Tena was nie in staat om self vir die kind te sorg nie, en het Pierce gevra: "Wat gaan jy doen om haar lot te versag?" Ds. Pierce het die onderwyseres sy laaste vyfdollarnoot gegee, en onderneem om van nou af elke maand vyf dollar te stuur om die onderwyseres te help om White Jade te versorg. Die ontmoeting was 'n keerpunt vir Pierce. Hy het begin om 'n organisasie te bou wat die wêreld se kinders sou help. Dit het alles begin by twee mense wat 'n vernielde kind raakgesien het. Hulle wou reg aan die kind laat geskied, en vir haar 'n geleentheid gee. Vandag is Epifaniefees. Ons vier die goedheid en koningskap van God wat in Jesus Christus verskyn het. Kersfees het ons aan God se Messias-koning herinner. In Hom het God se koninkryk, sy heerskappy oor alle dinge sigbaar geword. Daarom behoort ons te bid dat dit ook onder ons sigbaar sal wees, dat dit in ons land en regering sigbaar sal wees. Ons behoort die regering te help om die nood in die land raak te sien en om na die landgenote om te sien. Ons behoort self die moue op te rol en, aangevuur deur die wil van God, werklik medemens te wees vir diegene wat ons nodig het.

Psalm 72:1-7, 10-14.ppt 1.41 MB Dec 12, 2016 07:15 Download 660
Psalm 72:1-7, 10-14.pptx 1.29 MB Dec 12, 2016 07:14 Download 667
Psalm 72:1-7, 10-14.doc 117.5 KB Dec 12, 2016 07:13 Download 789

Johannes 1:1-14 - Kersfees 25 Desember 2016

Johannes1 1-14Wys ’n video van die Kersverhaal van kinders wat die Kersverhaal vertel en opvoer, of ‘n animasie, vertelling wat voorlesings is van die relevante Skrifgedeeltes. Voorbeelde ingesluit. Op Kersoggend is kinders ook opgewonde oor die geskenke wat hulle gekry het. Wys iets wat jy gekry het. Vra wat hulle gekry het. Party sou dit saamgebring het – laat hulle dit vir die gemeente wys. Wees saam met hulle bly en opgewonde. Herinner hulle dan dat die groot geskenk wat ons kry, Jesus is. God het in Jesus mens geword, sodat ons God deur Jesus kan ken en dien. Daarom gee ons onsself vir God. Jy kan sterretjies op die kinders se voorkoppe plak, of ’n bietjie body glitter op hul voorkoppe vryf. Daarmee vier ons dat ons doop bevestig dat ons God se kinders is én dat ons onsself vir Jesus gee. Die preekriglyn vier die begin van die evangelie in Johannes wat Jesus as die Woord van God aan ons bekendstel. Johannes begin dus nie by Jesus se geboorte nie. Hy begin ook nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mens en Israel sou plaas nie (anders as Matteus). Hy begin selfs nie by Jesus se betrokkenheid by die skepping waarvan die Psalms (33:6) en die Pentateug (Gen. 1:3) vertel nie (anders as Lukas). Hy begin by God se tyd, die ewigheid, voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos ons tyd was. Jesus is die Woord (logos) van God. Jesus is nie net goddelik nie, maar Godself. Uit Hom is alles gemaak, want Hy was die lewe van alles (Kol 1:16). En dit skyn soos ’n lig in die duisternis wat ons lewens verlig.

Johannes 1:1-14.ppt 1.23 MB Dec 08, 2016 09:42 Download 692
Johannes 1:1-14.pptx 1.17 MB Dec 08, 2016 09:40 Download 547
Johannes 1:1-14.doc 277.5 KB Dec 08, 2016 09:40 Download 794

Matteus 1:18-25 - Vierde Sondag in Advent - 18 Desember 2016

Matteus1 18-25Die versoeking is dikwels om vir kinders “lessies” uit die Bybel te haal. Wanneer ons egter te veel fokus op die “lessies”, vergeet ons soms om die Bybelverhale self vir die kinders te leer. Daarom stel ons voor dat jy gewoon die verhaal van Josef vir die kinders vertel. Jy kan vingerpoppies maak om te gebruik wanneer jy die storie vertel. Die preekriglyn lei in met die feit dat in die Adventstyd / Kerstyd ons die feit vier dat God in Jesus Christus die wêreld aangeraak het. Niks is meer dieselfde nie, want God het in die gestalte van 'n mens op aarde aangekom. Ons ontvang vergifnis van sonde en God gee ons hoop. Ons teks beklemtoon dit is hierdie wêreld, wat jy met jou sintuie waarneem, wat God kom verander. Ons glo nie in 'n sprokie of 'n mite, 'n mooi verhaaltjie van eendag lank-lank gelede nie. Gewone mense word in hierdie drama betrek. 'n Gewone maagd raak swanger, 'n ewe gewone man hoor die blye boodskap en ontferm hom oor Maria en haar seun, wat deur God verwek is. Dit gebeur deur die tussenkoms van die Heilige Gees, wat die nuwe lewe in Maria wek.

Matteus 1:18-25.ppt 2.01 MB Dec 08, 2016 09:29 Download 858
Matteus 1:18-25.pptx 1.5 MB Dec 08, 2016 09:27 Download 560
Matteus 1:18-25.doc 326.5 KB Dec 08, 2016 09:27 Download 901

Matteus 11:2-11 - Derde Sondag in Advent - 11 Desember 2015

Matteus11 2-11Jan Richardson het ‘n pragtige kunswerk geskep oor Johannes wat deur die donker tronk tralies die lig sien. Voorbeeld ingesluit. Dit is waarskynlik te ingewikkeld vir kinders, maar dis ‘n pragtige refleksie om óf met die gemeente te deel óf in die liturgie in te werk. Vir families kan die fokus op Jesus se verjaarsdag val. Daar is kreatiewe idees hoe om dit prakties te maak vir die kinders. Die preekriglyn lei in met die verhaal van Ken Mansfield die bestuurder van Apple Records, die uitgewers van die Beatles se musiek in die VSA. Voordat hy besluit het om Jesus as Here en Verlosser te volg, sê Mansfield, was sy Bybel die musiek-industrie se glanstydskrifte, was grafieke van plaatverkope sy God, en sy lewensdoel om posisies van prestige in die lewe te bereik. 'n Grammy-toekenning was sy verlosser, en die beloofde land 'n posisie op die toppunt van die plate-industrie. Hy wou 'n magtige sakeman wees, 'n sukses, iemand na wie ander met bewondering gekyk het. Na sy bekering het Mansfield besef hoe leeg die lewe saam met die Beatles was, in vergelyking met 'n lewe volgens die weg van Jesus. Die Vader, Seun en Heilige Gees is die bron van die lewenskoers wat hy nodig gehad het, vertel Mansfield later. "Ek het 'n kaart nodig gehad, 'n joernaal met helder instruksies, reiswysers waarna ek kan kyk – 'n gidsboek wat my onrustige gees kon aanspreek. Ek het 'n Boek met soveel krag nodig gehad dat die woorde daarvan op die kern van my hart ingegraveer kon word. Ek het die onweerlegbare, heilige Woord van God nodig gehad: woorde van die almagtige Vader, die skepper van die oseaan van die lewe waarop ek so verlore was." Dit gee ‘n uitstekende inleiding om oor Johannes die Doper se ervaring en evaluering van Jesus se bediening te gesels en vandaar die brug na vandag te slaan en die betekenis van Jesus as Messias op ‘n nuwe manier vir ons te belig.

Matteus 11:2-11.ppt 606 KB Dec 04, 2016 07:08 Download 619
Matteus 11:2-11.pptx 571.63 KB Dec 04, 2016 07:07 Download 472
Matteus 11:2-11.doc 293.5 KB Dec 04, 2016 07:06 Download 659


For DOWNLOAD is used JotLoader component © V. Kanich 2007-2009