Produkte

AddThis Social Bookmark Button

Aan die hand van die luistersiklus nooi Willem Nicol die leser uit om innerlik stil te word. Hy sluit aan by die drie bewegings van die luistersiklus: rus (liggaamlik en innerlik), hoor en leef. Psalm 1 sê die sleutel tot voorspoed en geluk is in die hande van dié mens "wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink". Hoe is so ’n mens? "Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is" (Ps 1:2-3).

Wat gaan hierdie boek vir jou beteken?

Vroeër het ek net die bytvlakke van my tande geborsel. Toe leer ’n mondhigiënis my om ál die vlakke te borsel en skoon te maak. Dit neem langer, maar ek het dit ’n daaglikse deel van my lewe gemaak. Op die lange duur het dit ’n groot verskil aan die gesondheid van my tande gemaak.

Wanneer jy hierdie boek deurwerk, sal jy iets leer wat op die lange duur ’n groot verskil aan jou innerlike gesondheid sal maak.

Die hoofdoel van hierdie boek is om jou te leer om jou só aan die Bybel bloot te stel dat dit jou al hoe meer omvorm. Dis ’n kuns wat grotendeels verlore geraak het, maar wat tans in ’n moderne vorm na ons terugkeer. Wêreldwyd is baie mense op die pad wat hier aanbeveel word. Die beste metode is om te leer om jou eie kos te kou wanneer jy met jou Bybel omgaan. Wat ander sê en skryf, kan jou help, maar dit kan nie vandag so nommerpas vir jou wees soos jóú ervaring met die Woord nie. Dis dié avontuur van alle avonture: Delf self, en vind self jou diamante. As jy volhou, sal jy vind dat jy mettertyd al meer geoefen raak in hierdie heilige kuns.

Psalm 1 sê die sleutel tot voorspoed en geluk is in die hande van dié mens "wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink". Hoe is so ’n mens? "Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is" (Ps 1:2-3).

Die pad na hierdie doel is om te leer om innerlik stil en oop te word. Gereelde beoefening van stilte het immers groot waarde vir jou fisieke en psigiese gesondheid.

Jare gelede het my hart onreëlmatig begin klop. Die dokter het gesê ek moet dit ignoreer, maar ek kon nie. Ek kon sien dit gaan saam met spanning in my lewe. Toe begin ek net ’n paar minute elke dag stilword met die Bybel, en ná enkele weke was die hartkloppings weg.

Stilword is soos om die pomp van die swembad aan te skakel sodat die water weer helder word. Daar kom sirkulasie in jou binnewêreld; jy maak vrede met dié dele wat jy afgeskeep het; jy word weer ’n eenheid en heel.


Skrywer: Willem Nicol

Prys: R49.95 (14 % BTW ingesluit)
    
Bladsye: 103

ISBN-10: 0864874634

ISBN-13: 9780864874634

Navrae en direkte bestellings:     Deelnommer: 0860 26 33 42