Geskiedenis

AddThis Social Bookmark Button
AddThis Social Bookmark Button
Vanaf die vroegste tyd is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste - die "feeste van die Here". Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle 'n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Op ander feeste is die groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op 'n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van heelhartige vreugde en genieting van God se goeie gawes, en terselfdertyd plegtige byeenkomste om sy vergewing en reiniging te vra. .

Die doel van die feeste was geestelik: 'n groot en heerlike ontmoeting tussen God en sy volk, en die profete het hulle skerp uitgespreek teen diegene wat die feeste tot blote formaliteit en leë ritueel verlaag het.

Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste (Rigt 21:21), maar al die mans moes die drie groot nasionale feesvierings bywoon:

  1. Paasfees en die fees van die ongesuurde brood (Eks 12:1-20; 23:15). Hierdie twee feeste is saam gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11-12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en 'n week geduur.
  2. Die fees van die weke (oesfees) (Num 28:26; Eks 23:16; Lev 23:15-21). Die fees - later' bekend as pinkster - is 50 dae na die begin van die paasfees gevier. Dit was in wese 'n landboufees waar die eerstelinge van die oes aan God gewy is.
  3. Die fees van die insameling (huttefees) (Eks 23:16; Lev 23:33-43). 'n Herfsfees aan die einde van die insameling van die vrugteoes. Die volk het sewe dae lank in hutte wat van takke gemaak is, gewoon - uit dank vir die oes, maar ook as 'n herinnering aan die dae toe hulle in die woestyn in tente gewoon het (Lev 23:43). Al hierdie feeste is beskou as "heilige" geleenthede waarop die gewone werk gestaak is. Daar was ook ander feesvierings.
PHILIP BUDD in Alexander, David, and Alexander, Pat: Handboek by Die Bybel. 
electronic edition. Kaapstad : Lux Verbi, 1998, c1986, S. 180
AddThis Social Bookmark Button
Petrus Chenalatus, ‘n notaris van Genève wat Johannes Calvyn se testament opgestel het, skryf in die Institusie van Calvyn, dat Calvyn nog gelewe het:

"op 19 Mei toe ons bedienaars onderlinge sensuur beoefen het en, soos gewoonlik, as teken van vriendskap saam geëet het. Dit was twee dae na Pinkster en die daaropvolgende nagmaal van die Here. Op dié dag het hy ingewillig dat die gebruiklike ete by sy huis voorberei word. Hy is uit sy bed na die kamer langsaan gebring en hy het al sy kragte ingespan en gesê: "My broeders, dit is die laaste keer dat ek met u saamkom. Hierna sal ek nooit weer saam met u by die tafel aansit nie". Dit was vir ons die begin van 'n baie treurige maaltyd. Hy het nogtans voorgegaan in gebed en selfs 'n bietjie geëet en tydens die ete sy gesprek, sover hy kon, op blymoedigheid ingestel. Toe die ete nog nie klaar was nie, het hy versoek om na die aangrensende kamer geneem te word. Daarop het hy ons byeenkoms met 'n stralende gelaat toegespreek en gesê: "Die muur tussen ons sal nie verhinder dat ek met die gees by julle is nie, al is ek na die liggaam nie hier nie".

Hy sterwe uiteindelik op die 27ste Mei op 54 jaar, 10 maande en 17 dae.

Calvyn, Johannes ;  Simpson, H.W., vertaal deur ;   Brink C.M.M., vertaal deur: 
Institusie van die Christelike godsdiens. Potchefstroom : Calvyn-Jubileum
boekefonds, 1998, c1991, I
AddThis Social Bookmark Button

Verlange na Herlewing

Prof Attie Barnard skryf in "Eeufees van die Pinksterbidure 1861-1961" dat die herlewing in die VSA sy ontstaan gehad na jare van "diepe geestelike insinking en 'n geestelike doodsheid en agteruitgang op verskillende terreine van die godsdienstige lewe. Hierdie agteruitgang het saamgehang met 'n tydperk van groot finansiële teenspoed." Veral 'n ongekende finansiële ineenstorting aan die einde van die 1850's in die VSA het mense laat gryp "na dié God vir wie hulle in 'n tyd van voorspoed opsy geskuif het..."

Berigte wat oor die herlewing in kerklike tydskrife en die sekulêre pers in Suid-Afrika verskyn het, het ook hier in Suid Afrika 'n verlange laat ontstaan na herlewing. Dit in 'n tyd toe ons samelewing o.a. gekenmerk was deur 'n "dorheid en doodsheid op geestelike gebied."

Reeds sedert die 1830's is daar begin met die hou van bidure in Suid-Afrika waar mettertyd al meer vir herlewing gebid is. So berig die predikant van Caledon bv. op 'n ringsitting in 1838 m.b.t. bidure in sy gemeente: "Wij bidden dan dat de Heere mogt zijne Heilige Geest uitstorten..." Ook Dr. Andrew Murray se pa, Ds. Andrew Murray Sr. wat predikant op Graaff-Reinet was, het in 1838 op die ringsitting aldaar voorgestel dat die predikante en hulle gemeentelede ernstig moet bid "om de uitstorting des Heiligen Geestes ten einde er eene herlewing in den godsdiens onder ons moge plaats hebben."

In 1846 verwys Ds. G.W.A van der Lingen van die Paarl o.a. na die gereformeerde kerk in Suid-Afrika wat in 'n "jammerlyken toestand is, en tot de diepste ellende vervallen zal tenzy het Gode behagen zyn licht en zyne waarheid, zynen Geest te zenden, en haar op te wekken tot geestelyk leeven." En God het geantwoord. Hy het herlewing gestuur.

Konferensie in Worcester

In Februarie 1860 verskyn daar in die Kerkbode 'n uitnodiging, onderteken deur prof. J. Murray, prof. N.J. Hofmeyer en ds. J.H. Neethling aan alle belangstellendes om die konferensie wat op 18 April te Worcester sou vergader, by te woon. Die hoofsaak van die konferensie was die voorbereiding vir herlewing in Suid-Afrika, naas ander onderwerpe soos die onderwys en sendingwerk wat ook aandag gekry het. Ongeveer 300 lidmate van 20 gemeentes het die konferensie bygewoon.

Dit was werklik 'n aardigheid om Worcester op die 17de April 1860 te sien. 'n Blye skaar het van alle kante daarheen gestroom. Karre en waens het streep-streep langs die vernaamste paaie na Worcester gereis. Behalwe uit al die dorpe van die Boland, was daar ook afgevaardigdes van Beaufort, Graaff-Reinet, Fauresmith en Bloemfontein. Dit was 'n pragtige gesig.

Daar het 'n roepstem deur die land gegaan: "Broeders, laat ons saamkom om te raadpleeg oor die belange van die Godsryk," en dit was die resultaat. Ons het 374 vreemdes getel, leraars, ouderlinge, diakens, oud-kerkraadslede en gemeetelede. Die volgende dag, Woensdag, om nege-uur, het 'n talryke skaar die kerk gevul.

Ds. Shand word as voorsitter voorgestel en lees die treffende woord van God uit Jesaja 62, waarna hy 'n gebed doen. Die leraar van Swellendam (dr. Robertson) lees 'n verhandeling oor Die Herlewing. Onder herlewing verstaan ons die verwakkering van die vroomheid in die hart van die mens deur die uitstorting van die Heilige Gees. 'n Groot herlewing het in die afgelope tyd oor Amerika, Ierland, Skotland en Wallis verbrei. Dit vind nog plaas in ander dele van die wêreld. Dit is nie iets nuuts in die Christendom nie, soos die Pinkster, die Kerkhervorming of ander gedeeltes uit die Kerkgeskiedenis uit vroeër en latere tye ons leer. O, hoe nodig het ons dit nie! Soos reën op die dorre aarde, "soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion." Die verhandeling beskou die waarde van so 'n herlewing vir ons land in breë trekke, en raai ons aan om te begeer, ja om te bid daarvoor... Die algemene belangstelling in die onderwerp was so groot dat die hele oggend daardeur in beslag geneem was.

AddThis Social Bookmark Button
Die tien dae tussen die Hemelvaart en Pinkster het die karakter verkry van ‘n tyd van afwagting tot die Gees die Kerk nuut maak en uitstuur. Pinksterbidure het in die NG Kerk-familie so ‘n tyd van afwagting geword. Die bidure is egter nie ‘n gebruik in die res van die wêreldkerk nie.

In 1860 het groot herlewings in die Kaapse NG Kerk-familie begin opvlam. Andrew Murray het 'n groot aandeel gehad dat hierdie herlewings sterk sendinggerig was. Die herlewing het oor die hele land versprei.

Gebed en die werking van die Heilige Gees is beklemtoon. In sommige gemeentes is daagliks vir gebed bymekaargekom. Dit is hoe die Pinksterbidure ontstaan het. Dis daarom belangrik om in Pinkstertyd besondere klem te lê op ons getuienis na buite, en voorbidding vir sending en plaaslike sendingaksies te doen. Soos God vir Jesus gestuur het, stuur Hy ons nou verder met die krag van sy Gees.

Die Pinksterbidure is verder 'n goeie tyd om terug te kyk op die Paassiklus en om onsself af te vra hoe ons die beweging ‘from ashes (Lydenstyd) to fire (Pinkstertyd)' beleef het. Dit is ‘n tyd vir toegespitste vernuwing in die kerk. Veral is dit ‘n tyd waar die kerk ontdek dat sy ‘n vreemde organisasie is. Waar alle ander organisasies daar is vir hulle lede, is hierdie organisasie, die kerk, daar vir sy nie-lede. Die Missio Dei van die kerk is dat die Gees ons die wêreld instuur.

AddThis Social Bookmark Button
Paassondag en Pinkstersondag omraam die oudste en belangrikste seisoen in die kalender, Pinksterfees, ‘n periode van vyftig dae. Oorspronklik is daar nie net na die laaste dag as "Pinkster" verwys nie, maar na die hele seisoen. Die Engelse Pentecost kom van die Grieks - pentecoste - wat "vyftig" beteken.

Die Pinksterfees was oorspronklik ‘n Joodse fees, een van die drie groot feeste wat volwasse mans moes bywoon in Jerusalem: Paasfees, Pinksterfees en Huttefees. Pinkster was die naam wat Griekssprekende Jode gegee het aan die Dag van die Eerste Vrugte of Fees van die Weke (Shabuoth), die oesfees waarvan Lev 23:16 praat. Gedurende die eerste eeu nC het die Jode hierdie fees begin assosieer met die ontvangs van die Wet op die berg Sinai. Christene het die parallel getrek tussen die Jode se ontvangs van die wet en hulle ontvangs van die Gees.  Dit kan selfs moontlik wees dat Paulus na hierdie kontras verwys in 2 Korintiërs 3:7-8: "Die wet  ... het in heerlikheid gekom ... Hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?".

Dit is belangrik om te onthou dat die 50 dae tussen Paasfees en Pinksterdag, dan ook nie net oor Jesus en meer spesifiek oor sy opstanding handel nie. Dit is ‘n tyd waar die werk van al drie Persone in die Godheid gevier word.  Dit gaan oor God as Vader, Skepper en Herskepper wie se verlossingsplan deur Christus en die Gees waar word. Dit gaan oor Christus wat opgestaan en so die oorwinning oor die dood bekragtig het. Dit gaan ook oor die Heilige Gees wat aan ons geloof skenk en wat die koninkryk van God deur ons laat kom. Die Gees skakel ons by God se plan in: as ontvangers én verspreiders van die Nuwe Lewe in Christus.

Omdat die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag van meet af aan gelowiges aan mekaar verbind het, kan ‘n mens sê dat die kerk op hierdie dag gebore is. Pinksterdag is op ‘n manier die verjaardag van die kerk!

Interessant is dat Hemelvaart en Pinksterdag aanvanklik saam gevier, sodat die indruk nie geskep word dat die dissipels op 'n stadium totaal van God verlaat is nie. Later is die twee vierings geskei.  Vandag is Hemelvaart in ons tradisie die begin van Pinkstertyd wat uitmond op Pinksterdag, wat baie keer met Nagmaal en ook ekumenies met Pinkstersaamtrekke gevier word.