Produkte

Verhale

AddThis Social Bookmark Button

In ons gemeente het die Selgroep wat volgens die luistersiklus begin funksioneer het, geskuif van die gedagte dat hulle 'n Bybelstudieboekie deurwerk, na die gedagte dat hulle 'n Bybelboek vat en luisterend deurwerk.  Die gevolg was dat die selgroep binne 'n aftree- oord letterlik 6 maande besig was om Romeine luisterend deur te lees.

Na die proses van 6 maande het hulle my as dominee gevra of ek net oor die breë teologiese lyne van Romeine met hulle kon deel.  Ek het dit met groot vreugde gedoen.  Hulle het daarna met Hebreërs begin. 'n Week terug het hulle my laat weet dat ek my reg moet hou.  Dit is weer 6 maande later.  Hulle het nou ook Hebreërs luisterend deurgewerk.  Ek moet weer die teologiese lyne van Hebreërs met hulle kom deel.

Ek vertel dit graag as 'n stukkie van ons Seisoen van Luister belewenis.  My ervaring is dat die Bybel weer gelees word.  Dat dit boek vir boek gelees word.  Dat daar geen angstigheid is oor hoe lank dit vat om deur die boek te werk nie.  'n Smaak ontwikkel vir die teks van die Bybel. So terloops die leier van die groep is 88 jaar oud.

AddThis Social Bookmark Button

Einde 2007.   Weer praat oor eredienstye.  Hoe baie is daar nie al gepraat nie!!  Vorige kere was dit so moeilik – feitlik onmoontlik.  Dis asof mense wat so verskillend is, mekaar nie meer hoor nie.  Wat nog praat van die Here se stem hoor!   Daar is die orrel-mense en die band-mense, die kop-spiritualiteit en die hart-spiritualieit standpunte, die taalpuriste en diegene wat hieroor anders voel.  Daar is die aansienlikes en die minder-aansienlikes, die met ’n wit vel en hulle met geel, bruin en swart velle (met hulle tale). Ja, ’n groot diversiteit.  En elkeen wil die beste vir hulleself hê. Dis asof fokus verloor word dat ons eintlik maar net Christus se mense is. Die visie van die gemeente: “Een in Christus sodat die wêreld kan glo (Joh 17)” voel soms so onbereikbaar.    Gaan dit weer gebeur dat mense mekaar nie vind nie?

Die 40 taakspanlede maak gereed om te debatteer, standpunte te stel en met die beste redenasies na vore te kom. Iemand gaan wen en iemand gaan verloor – is die gesindheid van sommiges. Hoe vreemd was dit nie toe daar nie ’n agenda by die eerste luisterbyeenkoms is nie! Maar die waarde van Luister na die Woord verander debat na dialoog, mag handhaaf na mag prysgee.  En veral as die vraag voortdurend gevra word: Waarmee is God besig? word die span al hoe meer gevorm om nie deur ’n agenda en eie standpunte nie, maar deur die Woord gevorm te word.

Na afloop van die derde luisterbyeenkoms besef die  span dat die Here besig is om ’n eenheid te bou in die span en dat verskeidenheid ondergeskik hieraan raak.  Is dit dalk tog moontlik dat mense mekaar kan vind?

En dan die deurbrake!  Die span bepaal die agenda na aanleiding van dit wat gehoor is in die vorige 3 luistersessies uit Openbaring 5, Handelinge 2 en Filippense 2.  Vreemd tog dat die eerste punt nie “eredienstye” is nie (dis dan waarvoor ons hier is!!).  Die eerste punt is: Wie...wie is God? Wie is ons? Wie is die gemeente?  Wie is mense in die gemeente?  Wie...wie..wie.  Die agenda skuif weg van ’n saak af na ’n diep behoefte aan communitas met mekaar en met God.

Nog wonderwerke...

Voorstelle.  Elkeen bring sy papiervoorstel oor die nuwe eredienstye.  Watter groep kry die beste tyd en die beste lokaal?  Dis immers waaroor die twis in die verlede was.  Almal bring hulle voorstelle.  Dan, wanneer een persoon sy voorstel “surrender” ten gunste van ’n konsensus-besluit, doen almal dit spontaan.  Elkeen plak sy voorstel teen die muur.  Mag is prysgegee!!

Die taakspanlede verdeel in klein groepe om voorstelle te formuleer.  Gaan daar weer twis wees?  Gaan die ou patrone hulle herhaal?  Gaan mense weer uitstorm uit die vergadering?  Die groepe is immers juis so saamgestel dat mense wat verskillend dink en is, in dieselfde groep is.

En dan gebeur dit!!  Die 8 blaaibordvelle word teen die muur geplak.  Kan jy glo...daar is slegs enkele klein verskille oor die tye en inkleding van die eredienste. Daar is toegeneentheid waarbinne debat verander na dialoog en konsensusbesluite verkry word.  God is so goed!!!  Ons het vir ongeveer ses maande na Hom geluister. Daar is kalmte.

En nou vir kerkraadsgoedkeuring!!  Die verhaal van die prosesse wat gevolg is, word met die kerkraad gedeel.  En die kerkraad...keur dit eenparig goed.  Wat ’n wonderwerk!!1 Die kerkraadsvergadering sing spontaan ‘n loflied en bid dankgebede.

Gemeentelede verstaan nie almal die besluite nie. Sommiges voel dat hulle die beste plek en die beste tyd is verloor het.  Hoekom?  Genoeg  rede vir ontevredenheid. Selfs dreigemente.  Die taakspan ontmoet hulle en verduidelik die prosesse aan hulle: hoe God gelei het deur Sy Woord en hoe daar na almal geluister is – selfs na diegene wat ’n ander taal praat as ons, selfs na hulle wat “anders” as ons is. 

God wat sy Woord vir die taakspan oopgemaak het, is getrou.  Die byeenkoms eindig met ’n gemoedelikheid en vrede en mense verstaan dat die visie: Een in Christus...sodat die wereld kan glo” beteken dat ons nie meer op onsself en ons eie behoeftes fokus nie.  Ons is ’n gestuurde gemeente, ’n hospitaal vir die wêreld, ’n dienspunt vir hulle wat buite die kerk en dalk die koninkryk staan.  Dis mag prysgee en konsensusbesluite – nie meerderheidsbesluite nie.

Minder praat en meer luister, minder mag en meer diensbaar, minder debat en meer dialoog, minder...meer...!!!

NS:  Die primatyd en –plek “behoort” is weggegee – aan die kinders, die kategese, die “magteloses,”, hulle aan wie die koninkryk van die hemel behoort.  Dit is iets van ware kerkwees, nee, van ware koninkryk, wat deurgebreek het ... toe ons geluister het.

AddThis Social Bookmark Button

Twee Riviere in die Langkloof was ‘n stoere gemeenskap wat gelowig en getrou in die gebaande weë van hulle voorvaders en voormoeders geloop het. Veral in Olivier-voetspore, want gedurende die 1930’s was net 24 van die 106 huisgesinne hier nie Olivier-nasate nie. Selfs die ander vanne was meestal ou bekendes soos Schreiber’s en Murray’s. Toe ‘n meester lank gelede onwillig raak om die skoolsaal te leen, bou hulle ‘n eie, trotse monument-kerksaal vir vol bidure en boere-basare. Maar, deur die jare het ook Twee Riviere karakter verander. Ou inwoners is gaandeweg en een vir een vervang deur … inkommers. Veral Engelssprekendes toegewy aan ‘n Joods-godsdienstige leefwyse. En soos hulle intrek, hoor jy: “Hulle is nie van onse mense nie” of “Hulle is nie in onse kerk nie” en agter die woorde word stilletjies gewonder: “Is hulle ooit van onse God se mense?”

Asof daar nie genoeg verwikkelinge (agteruitgang?) in die Kloof is nie en asof die resessie nie genoeg druk nie, wurg ‘n knellende droogte ons. Twee Riviere hou biduur vir reën. Die gewone paar mense neem gedweë hulle plekke in die agterbanke in. Die oop voorbanke is stille getuienis van die wat in vergange se dae in die getal was. Maar toe die biduurklok slaan, is daar afwagting in die lug asof vannaand se getal nog nie vol is nie. En daar daag hulle toe in hulle tientalle op. Van kinders tot bejaardes. Wanneer laas moes daar stoele ingedra word? Die vreemdes het saam kom bid. Met die oorwig moes selfs dominee noodgedwonge aanpas en later verskeie kere op die plaaslike sê-ding antwoord: “Het dominee se tande stomp geraak van al die Engels praat?”

AddThis Social Bookmark Button

’n Kommissie is saamgestel met die oog op ‘n aanbevelings en die neem van ‘n besluit tydens die Algemene Sinode van 2007 oor die posisie van homoseksuele mense in die kerk. Die kommissie het verdeeld geraak en het met twee teenoorstaande standpunte en stelle aanbevelings na die Algemene Sinode van 2007 gekom. Die kerklike wêreld, die openbare media en die gemeentes se oë was gerig op die uitkoms van die debat by die sinode. Die verdeling oor die aangeleentheid was so diep dat baie mense die moontlikheid van ’n skeuring in die kerk voorsien het.

Tydens die sinode het die ontwerpspan die lede van die vergadering genooi tot ’n gesprek voorafgaande aan die homoseksualiteitsdebat. Hierdie gesprek het gehandel oor die waardes wat die lede sou wou laat geld tydens die debat. Bykans honderd van die vierhonderd afgevaardigdes het die aand voorafgaande aan die debat hierdie gesprek bygewoon. Hulle het ooreengekom dat die waardes wat sou geld in die debat die volgende moet wees nl. leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid.  

Die debat wat die volgende dag gevoer is, het op ’n wonderlike wyse aan hierdie waardes gestalte gegee. Vir die eerste keer is beleef dat ’n sinode hierdie debat met die waardigheid voer wat met die aard van ’n kerklike vergadering geassosieer word. Die vergadering het desnieteenstaande by ’n dooie punt gekom waarin die diep verdeeldheid oor die saak duidelik geblyk het.

’n Voorstel is aanvaar dat die 10 moderators van die sinodes saam met ’n fasiliteerder moes gaan besin oor moontlike weë om die dooiepunt te deurbreek. Ook in hierdie gesprek het die waardes van leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid gegeld. Ook tussen hierdie lede was daar ‘n sterk verdeling van standpunte.

Uiteindelik is ’n voorstel geformuleer wat die posisie verwoord nl. waar die kerk haarself op daardie tydstip bevind het. Hierdie voorstel is deur beide die voorsitters van die aanbevelingskommissie ondersteun. Die sinode het hierdie voorstel met ’n baie groot meerderheid aanvaar.

Die besluit wat geneem is, was beslis die resultaat van ’n verbintenis om te luister na mekaar. Die rol wat die Seisoen van Luister hierin gespeel het en die konteks wat die Seisoen aan die gesprekke verleen het, het ’n beslissende rol daarin gespeel dat die kerk op ’n nuwe manier kon leer besluite neem.

Met die neem van die besluit het die sinode te kenne gegee dat:

  • diversiteit ’n werklikheid is binne die kerk en dat die spanningsveld wat dit skep nie altyd deurbreek kan word nie. Die diversiteit moet soms aanvaar word en omarm word;
  • besluite soms prosesmatig geneem moet word. By ’n volgende geleentheid kan die kerk verdere uitbreidings aanbring aan sy besluit. Die besluit wat moontlik was om te neem, verwoord dan slegs die bestaande posisie van die kerk. Die kerk aanvaar dus ook dat hy nog nie oor ’n finale antwoord beskik nie;
  • diep verskille oor sake nie skeiding hoef te bring nie, maar eerder die afhanklikheid van mekaar aksentueer sodat voller perspektiewe verreken kan word wanneer besluite geneem word;
  • dialoog besluite tot gevolg het wat mense saamneem op die pad wat die besluit aandui. Daarteenoor is debat dikwels makliker, maar is die langtermyn implikasies dat die minderhede dikwels ‘dislojaal’ voel teenoor die besluit. Weerstand bly voortbestaan. Die minderheid voel dikwels ‘verneder’ en die vertroue wat nodig is om die besluit wyd te implimenteer bestaan nie. 


AddThis Social Bookmark Button

In 'n gemeente met 'n kultuur van beskaming een voortdurende afkraak tussen leiers raak die gemeenteprosesse vasgeloop met voortdurende konflik.  Van die leiers woon 'n sinodale sessie oor die Seisoen van luister byeenkoms by en besluit om die gewoontes om na mekaar te luister in te oefen sodat daar meer vertroue tussen leiers kan ontwikkel.

Oor 18 maande byt hulle vas om elke keer as hulle bymekaar kom die oefeninge van die Seisoen te doen.  Sommige kere wanneer hulle vasval, ontdek hulle dat dit was omdat hulle nie genoeg gefokus het op luister na mekaar nie. Stelselmatig word luister 'n kultuur onder die leiers. Hulle is verras toe hulle ontdek dat daar skielik meer en meer jong mense na vore kom as leiers!